RIVERSDAL NUUS - Drie jong kinders is wees gelaat nadat hul pa Saterdag 22 Julie in die vroeë oggendure op die N2 net buite Riversdal in 'n noodlottige ongeluk gesterf het.
Die oorledene, Llewellyn Michaels (37) van Melkhoutfontein net buite Stilbaai, was om ongeveer 04:20 vanaf Heidelberg op pad terug huis toe toe sy motor by Sunrise op die N2 knap voor Riversdal se ingang die pad verlaat, deur 'n sloot langs die pad gerol en op sy sy in die veld te lande gekom het.
Hy was die enigste insittende. Sy liggaam is op die agterste sitplek van die motor gevind.
Die plaaslike polisie vermoed dat hy dalk agter die stuurwiel aan die slaap geraak het en die motor die pad verlaat het.
Hy word oral op sosiale media as 'n baie vriendelike mense-mens beskryf wat 'n groot impak gemaak het op almal met wie hy in aanraking gekom het.
Michaels alombekend as 'Blom', laat sy vrou van net meer as twee jaar, Elsuné, en drie kinders, Elrick, Mia en Leverne, agter.
Wyle Llewellyn Michaels
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’