STILBAAI NUUS - Oudewerfskloof se OWK Picuale is by die pas afgelope Absa-kompetisie vir Suid-Afrikaanse olyfolies aangewys as een van die tien beste olyfolies in die land.
In dié kompetisie word tien olyfolies sonder enige rangorde aangewys, maar te oordeel aan die opgewondenheid en passie van Oudewerfskloof se werknemers moet hul Picuale hoog op dié lys lê.
Volgens Basil Koopman, algemene bestuurder van Oudewerfskloof, begin goeie olyfolie in die boorde en nie by die pars van die olie nie en daarom is hy bitter trots op al die werknemers, wat hy as 'n hegte familie beskou.
Saam met Annerise Wolmarans, gasvryheidsbestuurder op die plaas, is hulle 13 werknemers in totaal. Gedurende oestyd word hulle deur 30 kontrakwerkers bygestaan.
Koopman sê die plaas het 40 ha onder olyfbome - dis ongeveer 15 000 bome - waarvan die helfte al in produksie is. Volle produksie word eers in 2023 bereik. Hulle verbou agt verskillende kultivars op die plaas en benewens olyfolie produseer hulle ook gebottelde olywe.
Grant Riddles, uitvoerende burgemeester van Hessequa-munisipaliteit, sê hulle is baie trots op die prestasie en is dankbaar vir die werkskeppingsgeleentheid asook wat Oudewerfskloof vir die ekonomie van Hessequa doen.
Hy het ook die werkers bedank en gesê dis hulle harde werk wat die plaas suksesvol maak.
Volgens Rachel Wall, voorsitter van die Stilbaai-sakekamer, is ekonomiese groei hul prioriteit en dat hierdie prestasie die pad oopmaak vir Stilbaai om een van die toptien dorpe in die land te word.
Sy sê Oudewerfskloof motiveer die dorp om dieselfde prestasies te lewer en sy wens die plaas geluk met hulle passie en prestasies.
Grant Riddles (links), uitvoerende burgemeester van Hessequa-munisipaliteit, en Andrew Stroebel, speaker, luister aandagtig terwyl Basil Koopman, algemene bestuurder van Oudewerfskloof, vir hulle die parsproses verduidelik.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'