Update
ALBERTINIA NUUS - 'n Voormalige Mej Albertinia, Lillian Keyser het na die semi-finaal om die kroon van Mevrou SA deurgedring.
Keyser was in 2010 as Mej Albertinia gekroon. Dié boorling van Mosselbaai het in 2007 saam met haar ouers, Rita en Braam Wolmarans, haar twee broers, Rikus en Barry, asook haar suster Jackiena na Albertinia verhuis. Hulle het by Hoërskool Albertinia skoolgegaan, waar sy in 2009 as Mej Hoërskool Albertinia aangewys is en daardie selfde jaar gematrikuleer het.
"Ek het in 2011 na die Paarl verhuis waar ek modelklasse aangebied en daarna vir sewe jaar in die wynbedryf gewerk het."
In 2018 is sy met Johan Keyser op 'n plaas tussen Mosselbaai en Albertinia getroud. Hulle het dieselfde jaar na Villiersdorp verhuis waar haar man by 'n vrugtepakhuis werksaam is.
Sy is 'n entrepreneur en sy werk hoofsaaklik met jeugontwikkeling, asook bemarking en die organisering van funksies.
"Ons het nog nie kinders nie, maar wil vir seker in die toekoms met 'n gesin van ons eie begin," vertel sy. Volgens Keyser is haar man en familie haar grootste ondersteuners en maak hulle altyd seker dat sy weet dat hulle by haar staan met wat ookal sy wil aanpak.
Gedurende haar tydperk as 'n semi-finalis vir Mevrou Suid-Afrika wil sy haar onder andere op jeugontwikkeling en kankerbewusmaking toespits. Sy is 'n kranige gholfer, geniet die buitelewe en glo daarin om in ander se lewens te belê.
"Hierdie is nou eers die begin van die proses. Hulle het Vrydag, 5 Maart op Instagram 'n live aankondiging gemaak om die semi-finaliste aan te kondig en ons werkswinkel was Sondag, 7 Maart in Kaapstad vir die dames van die streek, waar die opgewondenheid behoorlik ingeskop het."
Keyser kan op sosiale media gevolg word by @lilian_ksr op Instagram of Lillian Keyser op Facebook.
Vorige artikel: Oud-Albertinianer teiken Mev SA-Titel
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'