Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Die Ou Tronk is van Donderdag 8 Februarie deur 'n internasionale filmspan ingerig om as filmstel gebruik te word.
Dié Duitse-groep en filmmaatskappy het 'n gedeelte van 'n geskienkundige dokumentêr by onder andere die Ou Tronk verfilm. Dit bestaan uit verskillende gedeeltes.
Die reeks wat hier geskiet is, word Terra genoem wat die Latynse woord vir aarde is. Die naam is gepas omdat daardie gedeelte spesifiek oor landkaarte handel, van hoe kaarte geteken was, afmetings gemaak en bepaal is en afstande bereken was.
Die reeks wissel tussen verskillende eras waar onder andere die Middeleeuse era by die Ou Tronk verfilm is.
Patrick Walton, die vervaardiger vertel: "Ek was op soek na 'n 1800's gebou en iemand het toevallig vir my gesê dat ek op Riversdal moet gaan kyk.
Hulle het spesifiek die Ou Tronk genoem en dit is hoe ons hier uitgekom het. Ons gebruik ook plaaslike inwoners as agtergrond ekstras." Die span het met 'n 18 ton vragmotor vol rekwisiete in die dorp aangekom. Meeste daarvan het hulle self gemaak, ander is gehuur en baie van die tronk se inhoud kon gebruik word omdat dit by die era gepas het.
Van die akteurs en filmspan het op 'n skuit in Claremont op die see gevaar om nog 'n gedeelte van die reeks te verfilm. Die regisseur, Tilman Remme het gesê dat Riversdal en omgewing ideaal vir die verfilming van die dokumentêr is. Hy het verlede jaar ook in Suid-Afrika verfilm. Remme sê: "Die plekke is pragtig met groot variasie en hier is 'n baie hoë kwaliteit talent en produksie personeel. Dit is 'n goeie filmindustrie en ons sal graag weer hier wil verfilm."
Die eienaar van die Ou Tronk, Louise Malherbe, het gesê: "Ek is baie opgewonde hieroor, want ek het al 'n geruime tyd probeer om filmmaatskappye te kry om die perseel as agtergrond vir hulle films en advertensies te gebruik. Daar was verskeie wat die ou tronk oorweeg het, maar hierdie is die eerste buitelandse groep wat van die tronk gebruik gemaak het." Volgens haar gaan dit in die toekoms deur meer filmspanne gebruik word.
Kyk 'n video hieronder.
ARTIKEL, VIDEO & FOTO: WILMA ADAMSON, SUID-KAAP FORUM-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuuste Riversdal, Hessequa nuus'