Rommel is steeds 'n seeroog en die sekuriteitsheining wat om die area opgerig is, help nie veel om mense uit te hou nie. Met Suid-Kaap FORUM se besoek die afgelope week aan die stasie was dit verstommend om te sien dat al die vensters van binne af met baksteenmure toegebou is.
Daar was wel werkers besig om die spoorlyne in stand te hou en met navraag oor die baksteenmure binne die gebou is geantwoord dat dit gedoen is om te verhoed dat die vensters verder gebreek word en onwettige toegang tot die gebou verkry word. Geopen op 23 Maart 1938 is dit vanjaar 75 jaar wat die ou stasie as monument langs die Riversdal spoorlyn staan.
Dit is egter is jammerte dat soveel verval in die tyd plaasgevind het. Die toestand en verval van die pragtige monument is vir heelwat inwoners 'n bitter pil om te sluk, veral as mens in gedagte hou dat dit 'n paar keer die Lady Duncan-trofee vir die mooiste en netjieste stasie in die Wes-Kaap ontvang het.
Suid-Kaap FORUM het presies 'n jaar gelede oor dieselfde kwessie rakende die drastiese agteruitgang van die stasiegebou berig en toe navraag aan mnr. Walter Gresse (eiendomsbestuur: Transnet Freight Rail) gerig oor die toestand en toekoms van die stasie. Ten tye van die navraag het Gresse genoem dat die vervalle toestand en beweerde vandalisme ondersoek sou word, aangesien hulle nie daarvan bewus was nie. Hy het ook ten sterkste ontken dat die gebou gesloop gaan word.
Hy het verduidelik dat al Transnet se eiendom aangewend word met betrekking tot Transnet se kernsake, maar in gevalle soos met Riversdalstasie word eiendom uitverhuur om sodoende 'n inkomste te genereer en die eiendom teen vandalisme te beskerm.
Byna 'n jaar later
Die koerant het weer vir Gresse gekontak om navraag te doen oor die steeds vervalle toestand van die stasiegebou. Volgens hom is die bakstene wat aangebring is binne die gebou, hul poging om verdere vandalisme stop te sit en om enige verliese te voorkom. Gresse het ook beklemtoon dat, aangesien daar geen belangstelling is om die gebou teen markwaarde te huur nie, kan Transnet ook nie die gebou herstel of instandhou met die gedagte dat dit net weer gevandaliseer gaan word nie.
Volgens hom is dit nie slegs 'n probleem by Riversdalstasie nie, maar by meeste van Transnet se landelike stasies. Die langtermynplanne vir Riversdalstasie is om dit te hou soos dit tans daarna uitsien tot 'n geskikte huurder gevind kan word wat bereid is om die gebou teen markwaarde te huur.
Dit is bitter hartseer dat so 'n mooi, ou gebou stadig verval en tans soos dit daarna uitsien 'n seeroog is vir die pragtige dorp van Riversdal.
Sien nog foto's hier.
Daar word tans herstelwerk gedoen aan die spoorlyn wat verby Riversdal Stasie loop.
ARTIKEL EN FOTO'S: LOUISE MOUTON, SUID-KAAP FORUM-JOERNALIS