Om orgideë te groei is meer as net 'n passie en gaan dit ook nie net om by orgideë skoue en uitstallings te wen nie. Dit is 'n anderste verslaafdheid as daardie eerste orgideë wat jy met jou eie hand gekweek het, blomme lewer.
Vanjaar jaar spog die Smit-egpaar met 'n besondere Dendrobium Speciosium wat verras het met ritse blomme. Die spesie is afkomstig uit Australië.
Orgideë bekoor die mensdom al eeue lank. Met die groot hoeveelheid soorte wat vandag bestaan maak dit orgideë die grootste groep blomplante in die wêreld. Vir Annette en Manie is dit 'n passie wat reeds vir meer as 30 jaar deel van hul lewe is.
Dit is duidelik dat die twee orgideë groeiers weet hoe om die besonderse plante te vetroetel om net die beste met blomtyd te lewer.
Die egpaar behoort aan die Orgideë Vereniging van Suid-Kaap en neem al vir jare deel aan onderskeie skoue en kompetisies.Hulle spog met 'n groot versameling plante, duidelik 'n stokperdjie wat behoorlik vatplek kry aan 'n mens!
Om 'n orgideë te groei:
Daar is verskeie ander mites en straatmarkstories oor die kweek van 'n orgideë, maar wanneer daar 'n bietjie navorsing gedoen word oor wat die vereistes van die verskillende soorte is, is dit glad nie so moeilik om te kweek nie. Jy sal besef dat daar heelwat orgideë is wat maklik, sonder groot kostes en spesiale toerusting gekweek kan word.
Daar is sowat 30 000 spesies orgideë wat in die natuur groei en duisende mensgemaakte hibriede. Die meeste hiervan kan onder gematigde toestande met sukses groei en blom. Gematigde toestande is gewoonlik 'n maksimum somer dagtemperatuur van 30°C en 'n minimum winter nagtemperatuur van 12°C. Die regte humiditeit is ook baie belangrik, aangesien die mooiste orgideë uit die trope kom.
Orgideë kom in die natuur oor 'n wydverspreide gebied en verskillende omstandighede voor, maar meestal naby die ewenaar. Die plante kan op seevlak groei en selfs op hoë berge waar dit baie koud kan wees, gevind word. Sorg dat die omstandighede soortgelyk is aan die natuurlike habitat van die orgideë-soort, dan sal die plant groei en jou beloon met die allermooiste blomme.

Die Angraecum Sesquipedale orgideë is 'n oorsese spesie.