Almal is geneig om bejaardheid aan siekte of oudheid te koppel, maar 'n kopskuif is nodig om die veralgemening hok te slaan. Bejaardheid beteken nie die dood nie, dit is bloot 'n nuwe en wyser fase van enige persoon se lewe.
Dit is wel belangrik dat bejaardes nie letterlik op 'n hopie gaan sit en top oor alles en nog wat nie.
Gryp die goue jare van die lewe aan en put daaruit die dinge wat elke dag wel sinvol kan maak. Bejaardes kan soms voel dat hulle nie meer veel vir die samelewing beteken nie, maar is gesindheid die sleutel tot betekenis.
Die jonger geslag kan heelwat by 'n bejaarde leer met waardevolle wysheid en lewenslesse wat oorgedra kan word. Om tyd saam met oues van dae te spandeer, laat mens opnuut besef hoeveel lewenservaring in tagtig plus jaar beleef is!
Suid-Kaap FORUM het Donderdag, 25 September hande gevat met Huis Stilbaai en 'n paar senior burgers met nog vonk in hul are op 'n uitstappie vergesel na Matchbox. Eerste is die spel Kroukie (Croquet) aangedurf tot groot plesier van die groep en is daar sommer dadelik besluit dat die tehuis beslis so 'n spel moet aanskaf!
Hierna is daar geswaai, grastennis gespeel en 'n dame het selfs 'n paar spronge op die trampolien gewaag, wat beslis gewys het oud is nog nie koud nie!
Die middag is afgesluit met heerlike tee en koek, voorsien deur Lynette Cronje, eienaar van die winkel en is daar vir byna 'n uur gesellig saamgekuier.
* Suid-Kaap FORUM bedank Lynette vir haar betrokkenheid, asook die heerlike eet- en drinkgoed wat gratis voorsien is. 'n Verdere dank aan Babs Kirchner van Huis Stilbaai wat gesorg het dat die groepie verras word en deur hul veilig tot by die bestemming en terug te besorg.
*IN SHORT
As part of the Week for the Elderly, South Cape FORUM spent an afternoon with a few residents of Huis Stilbaai at Matchbox. Games were played with laughs all around. The afternoon was concluded with tea and cake ,sponsored by the owner, Lynette Cronje.
Klik hier vir 'n verwante nuusflits.
Van links agter is Marijke van Schalkwyk, Man Cronjé en Gerrit Coetzee. Voor sit Anso le Grange, Maxie du Plooy, Mavis Cronjé en Charlotte Skibbe.
ARTIKEL EN FOTO'S: LOUISE MOUTON, SUID-KAAP FORUM-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'