ALBERTINIA NUUS - Oorskietwol wat nuttig ingespan is om 'n bietjie vreugde te bring in die lewe van 'n hulpbehoewende vrou, het 'n nuwe betekenis gegee aan Mandeladag-vieringe in Albertinia.
Dié projek het by die Albertinia-biblioteek ontstaan toe 'n werknemer, Selma Prins, hasies gebrei het en daar toe 'n klomp wol oorgebly het.
Frieda Janse van Rensburg, 'n oudbibliotekaris, is genader vir raad oor wat om met dié klomp oortollige wol te doen.
Net daar en dan is besluit om 'n pragtige blokkieskombers te brei en is 'n klompie vroue in die dorp genader om te help brei aan die kombers. Selma het vroeg in Maart met met die hulp van Frieda, die kombersprojek begin.
Christine Ehlers het die veelkleurige kombers en serp aanmekaar gehekel. Die projek is middel Junie voltooi.
'n Welsynorganisasie is genader om iemand uit die gemeenskap te identifiseer wat dié kombers werklik nodig gehad het. En dié gelukkige persoon was Veronica Morris wat buiten die kombers ook 'n mooi gebreide serp op Mandeladag ontvang het.
Selma sê die projek het haar na aan die hart gelê. "Dit is lekker om mense in ons gemeenskap te help."
Frieda Janse van Rensburg met 'n pragtige bos blomme vir haar hulp om die veelkleurige kombers te brei.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'