STILBAAI NUUS - Die Stilbaai-polisie in samewerking met departement van binnelandse sake (immigrasie afdeling) en Hessequa Wetstoepassing het Woensdag 25 Oktober 'n geïntegreerde operasie teen ongedokumenteerde buitelanders wat onwettig in Stilbaai is van stapel gestuur.
Tydens die operasie is 18 mense gearresteer en hulle het Vrydag 27 Oktober in die Stilbaai-landdroshof verskyn waar almal van hulle skuld erken het.
Hulle is deur binnelandse sake geprosesseer en is tans in aanhouding in Mosselbaai-gevangenis totdat hulle gedeporteer word na hulle land van herkoms.
Tydens dieselfde operasie is 'n werkgewer wat onwettige immigrante in diens gehad het, ook gearresteer en hy sal eersdaags in die hof verskyn.
Stilbaai-polisie doen weereens 'n beroep op die gemeenskap om asseblief nie onwettige immigrante in diens te neem nie. Dit is nie net 'n oortreding van die wet nie, maar hulle sê vir hulle vriende: "Kom Stilbaai toe, hier is baie werk." Dit lei tot maatskaplike probleme en misdaad, want as hulle nie werk kry nie moet hulle op 'n manier nog steeds aan die lewe bly.
Werkgewers moet verseker dat 'n aansoeker vir werk oor die nodige dokumentasie beskik, al vra jy hom net om jou te help vir 'n halfuur teen betaling.
Indien jy onseker is, kan jy die aansoeker vra vir sy of haar identifikasiedokument en met hulle toestemming na die Stilbaai-polisie gaan om jou te help.
Stilbaai-polisie vaar uitstekend om hierdie onwettige immigrante uit die dorp te kry, maar die gemeenskap kan hulle hande versterk en help om hierdie euwel uit te roei.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’