HESSEQUA NUUS - Du'ane Becker van Stilbaai is Vrydag, 29 Mei as Suid-Kaap Forum Baardkoning gekroon. Hy het sy kas bier as beloning Donderdag, 2 Junie van die borg, Stilbaai Kelders ontvang, asook 'n volledige reeks gesigshaarprodukte met die komplimente van www.best-beard.co.za.
Danie Oosthuizen het die tweede meeste stemme op Facebook ingeoes en David Jakobs is derde. Hulle het ook Best Beard-produkte ontvang.
Die 23-jarige Du'ane, 'n oud-Oakdaler, sê hy het aanvanklik net sy baard laat groei om te sien hoe hy daarmee lyk.
"Ek hou nie van skeer nie en ek dink nie ek lyk sleg met 'n baard nie. My pa, wat in die lugmag was, is natuurlik nie vreeslik beïndruk daarmee nie," vertel Du'ane.
Sy ma het egter nie 'n probleem met sy baard nie en Du'ane het maar verby sy pa se kyke gekyk en deurgedruk. Hy het dit al 'n paar keer korter gesny, maar hy hou van die lengte wat dit is en hou dit netjies. Sy baard soos dit nou lyk, het hy vanaf Januarie vanjaar weer begin groei.
"Almal wat my ken het dit al gewoond geraak en ek dink ek sal heeltemal anders daarsonder lyk - dus, my baard het gekom om te bly!"
Becker, Oosthuizen en Jakobs het hul pryse wat deur Best Beard in George geskenk is, die afgelope week ontvang.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'