RIVERSDAL NUUS - Verskeie klagtes oor die toestand van die plaaslike begraafplaas langs die N2 is aan Suid-Kaap Forum gestuur.
Van die klagtes is onder meer dat die begraafplaas slegs aan die kant 'n heining het.
Vandale kan steeds aan die voorkant toegang verkry. 'n Groot aantal grafstene is óf omgestamp, óf gebreek.
Vullis, leë rooiproppie-wynbottels en lang onkruid plek-plek ontsier die begraafplaas.
"Hoekom kan die munisipaliteit nie die begraafplaas heeltemal omhein met lemmetjiesdraad bo-aan nie? Hulle kan dan die hek sluit en sleutels aan naasbestaandes verkoop vir toegangsbeheer," stel een van die klaers voor.
Kommentaar deur Hessequa-munisipaliteit: Die munisipaliteit betreur die beskadiging van grafstene en begraafplase.
Hessequa-wetstoepassers patrolleer dit gereeld om persone wat doelloos vertoef aan te spreek.
Die omheining van Riversdal-begraafplaas is in fases opgedeel en is die finale fase tans onderweg: 1. Grondoppervlakte afwerking; 2. Plasing van lemmetjiesdraad; 3. Vervaardig en installering van vyf hekke by die onderskeie ingange.
Lede van die gemeenskap word versoek om enige inligting rakende vernielsug aan die munisipaliteit te rapporteer sodat dit verder ondersoek kan word.
Die sinnelose beskadiging van enige openbare bate soos verkeerstekens, substasies, ablusiegeriewe, openbare parke (wat begraafplase insluit) is 'n groot kommer, want die herstelwerk plaas 'n onnodige las op die belastingbetaler terwyl die geld eerder aangewend kon word om verdere fasiliteite aan te bring, eerder as herstelwerk.
Wenke wat lei tot skuldigbevinding van die oortreders kan beloon word.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'