RIVERSDAL NUUS - Hoewel daar sedert die coronavirus-pandemie sterk aangeraai is dat mense maskers moet dra om hulself teen die virus te beskerm, sê Nomafrench Mbombo, Wes-Kaap minister van gesondheid dit is onnodig en waardeloos.
"Om 'n masker en handskoene te dra wanneer jy na 'n supermark of apteek toe gaan om noodsaaklike middele te koop, gaan jou nie teen die virus beskerm nie."
Sy sê dié voorsorgmaatreëls sal eerder daartoe bydra dat die virus vinniger versprei omdat maskers en handskoene dit van mens tot mens oordra. Dit gee ook valse sekuriteit omdat jy dink jy hoef nie jou hande te was of te ontsmet nie.
Dié siening word deur die hoof van die Wes-Kaap departement van gesondheid bevestig, aldus Nadia Ferreira, mediawoordvoerder vir die departement. "Indien die masker en handskoene nie op die regte manier gedra word nie, is daar 'n groot risiko dat die koronavirus sodoende versprei kan word.
"Dit is vir ons verblydend om terugvoering te kan gee dat ons klinieke tot op hede geen toestroming by die hekke ervaar nie.
Dit beteken ons pasiënte besef die erns van die saak. Hulle kom slegs kliniek toe as hulle baie siek is of vir ander noodsaaklike dienste, soos voor- en nageboortesorg, voorbehoeding, inentings en chroniese medikasie, soos TB-pasiënte."
Ander chroniese medikasie wat nie daagliks by die kliniek geneem hoef te word nie, word deur gemeenskapsorgwerkers tuis afgelewer. Daar is nie ander punte waar die medikasie afgehaal kan word nie.
Geen besoekers word by pasiënte toegelaat nie. Besoekers by ernstig siek pasiënte sal per geval geëvalueer word en slegs een besoeker sal toegelaat word.
Geen ander pasiënte sal besoekers kan ontvang nie. Indien pasiënte ontslaan word, word hulle huis toe gestuur vir selfisolasie tuis.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'