STILBAAI NUUS - Drie van Stilbaai se olyfplase het uitstekend op die onlangse SA Olives-kompetisie gevaar.
Kleinbergskloof het drie goue medaljes gekry, Oudewerfskloof het twee goud en een silwer ingepalm en Kransfontein het drie silwer en een brons medalje verwerf.
Kleinbergskloof het ook die tweede meeste goue toekennings van al die plase wat ingeskryf het, gekry.
Hennie en Suna Volschenk van Kleinbergskloof sê hulle kan nou nog nie glo al drie hul inskrywings het so goed gevaar nie. "Daar was 'n hele paar harde gille na daardie aankondiging," lag Suna. Hulle het 'n enkel-variëteit, 'n mengsel en hul landgoedvermenging ingeskryf.
Sy sê sulke toekennings in moeilike tye is nét die aansporing wat plaaslike produsente nodig het. "Mens wil soms moed verloor, maar hierdie sukses wys wat moontlik is."
Stilbaai-toerismebeampte, Annerise Wolmarans sê hulle is baie trots op al dié boere. "Hulle het beslis nie toegelaat dat die virus hul spoed breek nie."
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'