Update
RIVERSDAL NUUS - Hoër Landbouskool Oakdale het vanjaar by die nasionale jeugskoukampioenskap gepronk.
Leerders van die skool in Riversdal het met hul vaardigheid die Westelike Provinsie se span gehelp om as die algehele wenner by vanjaar se SA jeugskoukampioenskap aangewys te word.
Dié kampioenskap is van 1 tot 4 Oktober in Clanwilliam aangebied.
Die leerders kon aan veertien afdelings deelneem met inbegrip van kulinêre kuns, suiwelbereiding, pluimvee (wat konyne en duiwe insluit) varke, beeste (vleis en suiwel), skape (vleis, melk en wol), die Angora-veselbok en die afdeling vir jong afslaers.
Sewentien Oakdalers is in die Westelike Provinsie se span ingesluit. Hulle het teen die res van die land se agt provinsies meegeding.
In die afdelings waarin die leerders met diere gewerk het, het die beoordelaars kennis, voorbereiding, versorging (was en higiëne) en skoumanskap in aanmerking geneem.
Die deelnemers moes eksamen skryf oor hul kennis van hul dissiplines. Hul verhouding met hul spogdiere is ook gemonitor - en daaruit is die kampioen geëien en bekroon.
Leerders het ook aan die groepskou deelgeneem, waartydens 'n trio in sinkronisasie hul diere moes ten toon stel.
Die Oakdalers het in elf van die afdelings presteer waaraan hulle deelgeneem het. Die leerders het individueel en as groep talle goue, silwer- en bronsmedaljes ingepalm. Hul behendigheid is met altesaam twintig medaljes beloon.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’