Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - "Nee, ek is nie 'n held nie!" sê die 15-jarige Wandré Groenewald, 'n dapper graad 10-leerder aan die Hoër Landbouskool Oakdale op Riversdal met 'n diep, nadenkende sug. "Ek het net gedoen wat ek op daardie oomblik gehoop het is rég..."
Hy het 'n lewe gered, maar iemand het ook in sy arms gesterf.
Wandré en 'n vriend, die 18-jarige Hannes Vermeulen wat verlede jaar matriek aan die Hoërskool Swellendam voltooi het, het vakansie by die Palmiet-woonwapark in Kleinmond gehou.
Dit was 'n rustige, sonnige dag by die see. Die twee maats het sorgeloos saam met hul vriendinne en hul honde op die strand baljaar.
Trauma
En toe verander tiener-onskuld in 'n traumatiese ervaring.
Meteens het 'n vrou histeries begin roep twee van haar vriende verdrink. Die seuns het 'n man en 'n vrou in die water gewaar wat strompelend uit die branders probeer kom, maar kort-kort weer onder die water verdwyn. "Ons het eers gedink dit was 'n speletjie, maar besef toe dit was ernstig."
Hulle het water toe gehaas, die man ondersteun en tot op die strand geneem waar hulle hom op sy sy gedraai het sodat hy die soutwater kon uitbraak.
Kyk 'n video hieronder:
Nog iemand vermis
Die man het bygekom en weer begin asemhaal. Toe hoor hulle daar is nóg 'n man wat vermis is; al amper 'n halfuur lank.
Wandré het hom na die hoogste duin gehaas om te probeer sien waar die ander drenkeling is. "Ek dog toe eers dit is 'n stuk bamboes wat ek sien, maar besef toe dit is 'n man wat onderstebo dryf. Ek het onmiddellik see toe gehardloop terwyl ek vir Hannes roep om saam te kom. Ons kon nie staan nie, maar ons het daarin geslaag om hom om te draai, sy gesig uit die water te kry en met hom strand toe geswem."
Wandré het dadelik CPR begin toepas, maar kon geen teken van lewe voel nie. Intussen is die nasionale seereddingsinstituut (NSRI), Overstrand-brandweer- en reddingsdienste, die Wes-Kaapse provinsiale nooddienste en die polisie ontbied.
Alle pogings verniet
Die man se twee kinders was die heeltyd daar en moes toesien hoe Wandré alles in sy vermoë doen om hom te help. "Ander mense het begin wegloop en my gemaan om op te hou, maar ek kón nie!" Hy het onverpoosd probeer om die man se lewe te red terwyl hy om hulp gewag het. Die paramedici wat by hom oorgeneem het, het nóg 40 minute lank met uitgebreide pogings probeer, maar die man is op die toneel dood verklaar.
"Ek kon wel nie die oom se lewe red nie, maar ten minste kon ons hom uit die meesleurende seestroom red en kan die mense wat vir hom lief was, hom begrawe."
Wandré is 'n ervare swemmer, het gedeeltelike opleiding ontvang en het al diens as menseredder gedoen.
Die lewe gaan aan
Nou is hy terug by die skool, waar hy verdiende erkenning vir sy heldhaftige optrede ontvang het.
Dié skugter tiener is 'n diereliefhebber, 'n skrander leerder, sportiewe uitblinker en veral 'n gedugte rugbyspeler in die agstemanposisie. Hy is fiksheid- en gesondheidsbewus en droom oor roem as 'n Springbok en 'n loopbaan in liggaamsgesondheid.
Sy lewensleuse is bloot: "As jy iets in die lewe gedoen wil hê, hou op wens en moenie sit en wag dat dit gebeur nie. Moenie net opgee nie. Lig jou en werk daarvoor!"
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'