STILBAAI NUUS - Liezl van der Merwe van die NSRI is op 'n toer deur die Suid-Kaap om inwoners van Stilbaai, Mosselbaai en George meer te vertel van die NSRI inisiatiewe om lewens te spaar op Suid-Afrikaanse waters.
Sy was Maandag 29 Januarie in Stilbaai en het belangstellendes toegespreek by Jagersbosch.
Die NSRI het 48 stasies regoor Suid-Afrika, waarvan vier in Gauteng is en daar is ook een by die Gariepdam.
Die res is almal teen die kus en was die afgelope Desembervakansie hulle gewig in goud werd.
Die NSRI red gemiddeld 1 000 lewens elke jaar, maar tog verdrink daar sowat 2 000 mense jaarliks in Suid-Afrika.
Die sowat 1 650 vrywilligers word opgelei om swemmers in die moeilikheid veilig aan land te bring en dan word hulle ook opgelei in noodhulp en selfs brandbestryding.
Landwyd beskik hulle oor 111 reddingsvaartuie, 35 reddingsvoertuie, 18 trekkers en 16 vierwiel motorfietse.
Die NSRI kan egter net voortbestaan deur middel van die welwillendheid van die publiek wat donasiies kan maak, geld in hulle testamente nalaat, deelneem aan maandelikse kontanttrekkings en die motor kompetisies wat hulle aanbied.
Kontak gerus jou plaaslike NSRI stasie of dan vir Liezl van der Merwe by 071 818 0272 indien jy betrokke wil raak of kan help op een of ander manier.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’