Update
RIVERSDAL NUUS - Juan Jacques Jacobs, beter bekend as JJ het November verlede jaar sy eerste boek, 'n gruwel vrygestel.
Hoewel hy reeds drie boeke geskryf het, is hierdie die eerste wat aan die publiek beskikbaar is.
Dit het hom vier jaar geneem om dié gruwelverhaal te voltooi en het hy lank navorsing gedoen om die korrekte feite weer te gee. Die geboue en gebied waarop die verhaal gebaseer is, is effens aangepas, maar bestaan alles werklik. Hy geniet dit baie om sy eie argitek van dié geboue te wees.
Hy vertel: "Ek 'lewe' die storie vir 'n tydjie in my kop om die regte idee te kan kry en dit daarna te skep. Dit is belangrik om die idee wat jy het reg oor te dra. Ek het baie navorsing gedoen omdat ek die prentjie reg moet kan inkleur vir die leser. Dit is vir my amazing hoe ek 'n plek in my gedagtes kan 'bou'."
Die oud-Riversdaller het begin deur gedigte te skryf wat tot kortverhale gevorder het. Sy gedigte het meestal oor liefde, rebellie, die gemeenskap en 'n meisie wat vandag sy vrou is gehandel. Sy ouers het na Riversdal verhuis terwyl hy in graad 6 was. Hy het hier grootgeword en gematrikuleer.
"Dit is vir my 'n ontsnapping om te skryf. Wanneer ek skryf raak ek rustig. Ek is gek daaroor om gruwels te skryf omdat dit die enigste genre is wat 'n fisiese reaksie uitlok en nie net emosie nie. Dit laat jou hare rys en jou hart vinniger klop. Indien jy nie van gruwels hou nie, sal dit vir jou moeilik wees om hierdie boek te lees."
Hy geniet die absurde en die kontras om dié mooi in die lelik te kan raaksien. "Ek wil graag elkeen bedank wat die boek gekoop het, my vrou vir haar ondersteuning en almal wat in my glo."
Sy volgende uitdaging is om 'n reeks steampunk boeke te skryf.
Lees 'n vorige artikel: Oud-inwoner stel 1ste boek bekend
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'