HEIDELBERG NUUS - Twee brandverwante sterftes binne 10 dae waarby kleuters betrokke is, het die dorp tot in sy fondamente geskud.
Elmorey Manho (4) het tydens 'n brand laat Donderdagmiddag, 2 Februarie, in 'n onbewoonde karavaan in die informele area bekend as die Donkiekamp omgekom.
Wat so tragies is van die voorval, is dat Elmorey se kleinneef, Peter 'Austen' Miggels (9) op Maandagaand, 23 Januarie, by hul huis in Diepkloof ook dood is vermoedelik weens rookinasemhaling.
Die karavaan, wat as stoorplek deur een van die vele gesinne hier gebruik word, is ook 'n gewilde speelplek onder kinders in Donkiekamp. Die brand het op 'n onverklaarbare wyse glo in die karavaan ontstaan waarin Elmorey blykbaar alleen was.
Elmorey, 'n leerder by Neskuikentjie-kleuterskool, het saam met haar ma, Lauren Manho, en haar ouer suster Geronishia (11) sowat 70 m van die toneel af gebly.
Twee ander gesinne, waaronder Eva Saayman (74) en haar twee seuns van onderskeidelik 54 en 52, het alles in die brand verloor toe hul hok vlamgevat het. Net Saayman se rusbanke kon gered word.
Die ander gesin, die Diedericks-egpaar wie se karavaan dit was, het afgesien van die karavaan, nie groot skade soos Saayman gely nie.
Daar was ook 'n skoolbus op die perseel geparkeer wat ook tydens die brand beskadig is.
Diedericks sê dat hy in die dorp was toe hy 'n oproep vanaf sy vrou kry dat daar 'n brand uitgebreek het. "Ek het terug huis toe gejaag, maar die vlamme by die karavaan en ouma Eva se hok was oorweldigend in daai stadium."
Al die bure op die perseel het hul bes probeer om die vlamme te blus.
Volgens 'n erg geskokte buurman, Ashley Pieters, het hy net van die werk afgekom en gesit om sy koffie te geniet toe hy Diedericks se vrou, Christine, hoor skree dat die karavaan en hok van Saayman onder vlamme is.
"Ek het alles net so gelos en na die brand gehardloop waar ek 'n kind om hulp hoor skree het. Ek het die ruit van die karavaan oopgeslaan om binne te kom, maar die vlamme was te erg. Ek moes net water gooi soos my bure en ander helpers water aangedra het.
"Dit was iets wat ek nooit ooit weer wil deurmaak nie. Dit spook nog by my," het Diederichs Vrydagaand verduidelik.
Die karavaan en houthok in ligte laaie.
Foto's: Clive Pretorius
Tydens Suid-Kaap Forum se besoek aan die toneel, was die brandweer, ander nooddienste asook die polisie en plaaslike raadslede teenwoordig. Nagenoeg 300 mense het van oral in die dorp op die toneel toegesak.
Dit was behoorlik 'n tranedal toe omstanders Elmorey se ma en Tammy Gelderbloem, Elmorey se oppasser, mekaar huilend probeer troos het terwyl hulle op die forensiese personeel gewag het.
Benewens haar ma, Lauren, en suster Geronishia, laat Elmorey ook haar pa, Elmar Hunter, en nog twee susters en een broer agter.
Die begrafnisdiens is Saterdag 11 Februarie om 09:00 vanaf die huis in Hoogstraat en daarna om 10:00 vanuit die Nuwe Apostoliese Kerk-Oos in Andries du Toitstraat.
Daar word 'n dringende beroep gedoen vir enige hulp van watter aard ook al om die twee gesinne van hulp te wees.
Manho kan by 076 290 9229 gebel word en Saayman se dogter, Stella Rossouw, by wie sy en haar twee seuns nou moet bly, kan by 071 614 4354 gebel word.
Lauren Manho (links), ma van Elmorey en Tammy Gelderbloem, haar oppasser, probeer mekaar vertroos.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'