HEIDELBERG NUUS - Ná meer as drie dekades se afhanklikheid van hul moederliggaam, Kinder en Gesinsorg (KGS), nou bekend as Kindersorg Suid-Afrika (KSA) Heidelberg, het die bestuur van die Neskuikentjie-dagsorgsentrum besluit om af te stig en hulself as 'n nie-winsgewende organisasie (NWO) te laat registreer.
Tydens 'n vergadering verlede jaar met hul ouerkomitee is daar besluit, as hulle nuwe hoogtes wil bereik en 'n meer doeltreffender organisasie in die gemeenskap wil wees, hulle onafhanklik moet word en as 'n NWO registreer.
Dié besluit is aan Lesley Hartnick, 'n plaaslike gemeenskapsontwikkelingswerker verbonde aan die provinsiale departement van plaaslike regering, oorgedra waarna hy hulle met hul aansoek by die departement maatskaplike dienste bygestaan het.
Volgens Lilian Fredericks, voorsitter, het hulle op 31 Januarie 'n skrywe ontvang wat hul registrasie bevestig het. Hulle het egter eers onlangs hul sertifikaat vanaf Hartnick in ontvangs geneem.
"Ons as bestuur en personeel van Nes-kuikentjie wil graag ons dankbaarheid en waardering teenoor almal uitspreek vir hul hulp en ondersteuning in die proses," het Fredericks gesê.
Sy het ook laastens 'n dringende beroep op die gemeenskap gedoen om hulle met enige skenking te ondersteun. Hul kontaknommer is 078 657 5679 of hulle kan by neskuikentjiedagsorg@gmail.com bereik word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’