RIVERSDAL NUUS - Suid-Kaap Forum se voorbladberig op Vrydag, 30 Julie, oor 'n gedenksteen wat onwettig op die stegpad buite Riversdal opgerig is, het geweldige reaksie ontlok.
Die ouers van 'n 10-jarige seuntjie, Kenthlan Albertyn wat in 2019 noodlottig daar beseer is, het die steen laat aanbring, en volgens die familie, mét toestemming van Eden-distriksmunisipaliteit. Dit was egter mondelings en hulle het geen bewys daarvan nie.
Die koerant het klagtes oor die steen ontvang van 'n paar motoriste wat die pad gereeld gebruik. Die motoriste voer aan dat die gedenksteen bestuurders se aandag aftrek en 'n ongeluk kan veroorsaak.
Die klaers het verkies om anoniem te bly.
Tot en met Dinsdag, 10 Augustus, het die berig 541 124 mense op die koerant se Facebook-blad bereik, 516 het kommentaar gelewer en 186 persone het dit gedeel. Die meeste lesers was gekant daarteen dat die steen verwyder word, in teenstryd met die departement van vervoer se hoof kommunikasiebeampte, Jandré Bakker, se versoek.
Na aanleiding van die reaksie, het Suid-Kaap Forum 'n opvolgnavraag aan die departement van vervoer gestuur om te verneem of die familie nou skriftelik kan aansoek doen, synde hulle dit blykbaar voorheen mondelings gedoen het.
"Die afdelingspad 1568 oos van Riversdal is onder die beheer van die departement van vervoer en openbare werke (DVOW). Goedkeuring deur die distriksmunisipaliteit - as instandhoudingsagent vir die departement, hetsy verbaal of skriftelik, is daarom nie geldig nie," het Bakker laat weet. "Jaarliks sterf baie mense op die land se paaie en dit bring dus die moontlike hoeveelheid gedenkstene tot groot getalle indien dit toegelaat sou word."
Hy het bygevoeg dat die padreserwe nie 'n veilige plek vir groepe mense is om te vergader om die dood van 'n geliefde te herdenk nie. "Voertuie wat op gevaarlike plekke parkeer, of voetgangers wat nie uit die padbane bly nie, kan tot verdere beserings of lewensverlies lei.
"Die uitgangspunt is dat blomme of kranse wat aan die heining vasgemaak is, in deernis met die familie vir 'n tydperk (tot die blomme verwelk) verdra sal word, maar strukture moet, soos enige ander konstruksie wat onregmatig in die padreserwe aangebring is, of dit 'n advertensiebord of gedenkteken is, hanteer word."
Bakker het ook gesê dat permanente strukture van dié aard padonderhoud bemoeilik. "Dit sal dus nie oorweeg word vir goedkeuring nie. Ons versoek bly dat die gedenkteken verwyder word."
Riversdal-korrespondent, Henry Saayman, het met Kenthlan se ma, Irene, oor die besluit gesels. Soos te wagte, was sy bitter teleurgesteld en hartseer. "Sy het vir my gesê as die vrou wat haar kind doodgery het, net na haar toe wil kom en sê sy is jammer. Dit voel of sy nie afsluiting kan kry nie. En sy weet ook nie of daar enigiets van die strafbare manslag saak gekom het nie, want sy hoor niks," het Saayman vertel.
Die ondersoekbeampte, Boer van Rensburg, het by navraag gesê dat die dossier 'n maand gelede by die senior aanklaer by die streekhof in George ingehandig is. Hulle wag vir sy beslissing. "Blykbaar word dit daarna aan die DOV in Kaapstad gestuur wat sal besluit om te vervolg of nie."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'