RIVERSDAL NUUS - Drank, tabak en wegneemetes bly vir eers agter slot en grendel.
Pres. Cyril Ramaphosa se kantoor het Donderdag 16 April die aansoek van die Gauteng Drankforum om drankverkope tydens die grendelperiode te wettig, afgekeur.
Suid-Kaap Forum het ’n blitsopname gedoen. Meeste van die 30 respondente het aangedui hulle wil hê drankverkope moet onmiddellik hervat, maar daar was ook diegene wat ferm nee gesê het.
Dis hul menings
Boer A: Nee. Ek dink ons het genoeg probleme met huismoles sonder drank. Sigarette kan maar verkoop word.
Boer B: Hou bottelstore toe, maar hou drankverkope in kettingwinkels oop.
Maatskaplike werker: Waar ek woon is dit gewoonlik baie bedrywig, maar nou hoor jy die stilte en dis rustig - geen dronk persone wat lelik vloek en skel nie. Ek het ook nog nie gehoor van ander kwade dinge wat tydens die lockdown in ons gebied gebeur het nie.
Inwoner: Mense is gevange in hul huisie en kan verveeld en gefrustreerd raak. Dit kan lei tot alkoholmisbruik. Daar is soveel mans wat hul vrouens en kinders slaan as hulle onder die invloed van drank is. Ek drink ook ’n drankie as ek braai, maar daar is baie mense wat nie weet waar om te stop nie.
Afgetrede sakeman: Ek vermoed as mense se drank opraak, gaan baie van hulle uitvind hulle het ’n drankprobleem. Hulle gaan besef hoeveel geld hulle aan drank bestee en hoe nadelig dit hul huislike omstandighede beïnvloed. Dalk het hulle na die inperking genoeg moed om die drank te laat vaar.
Skoolhoof: ’n Dronk mens is ’n groot gevaar. Baie bly nie eens in hul eie huise nugter nie. Ek sien daagliks wat die uitwerking daarvan op ons kindertjies is.
Restauranteienaar: Ons mense wat so na drank gryp, het niks om vir hul kinders te gee nie en hulle kan nie hul huur of skuld betaal nie. Ek kry tot 10 oproepe per dag van mense wat wil geld leen. As die drankwinkels oop is, sal die bietjie geld wat hulle het, daarop bestee word, eerder as om kos vir die kinders te koop. Weens die verbod het ons oor die Paasnaweek ook die minste sterfgevalle op die pad in baie lang tyd gehad.
Alkohol ’n hindernis
Volgens die president se kantoor word alkohol as ’n hindernis in die stryd teen die koronavirus beskou. Alkoholgebruik kan lei tot ernstige misdaad, motorongelukke en ander mediese noodgevalle. Hospitaalbeddens moet eerder beskikbaar gehou word indien die gevalle van mense wat met Covid-19 besmet is, skerp toeneem.
Volgens die presidensie word vir die ondersteuning van kleinsakeondernemings en werkers in die bedryf voorsiening gemaak. “Die inperking weens koronavirus het daartoe gelei dat alle besighede swaar kry en nie net die drankbedryf nie.” - SAnews.gov.za
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'