STILBAAI NUUS - 'n Inwoner van Stilbaai, Tienie Snyman is baie ongelukkig omdat 'n muur wat deur 'n buurman voor sy huis gebou word, sy mooi uitsig na die see versper.
Die bou van die muur is glo aanvanklik deur die munisipaliteit afgekeur, maar toe kort daarna wel goedgekeur.
Snyman se ongelukkigheid spruit daaruit dat sy besware daarteen nie in aanmerking geneem is nie.
In die aansoek om goedkeuring, word gestipuleer: "Die voorgestelde aansoek sal nie 'n negatiewe impak op die omliggende omgewing of die regte en geriewe van die omliggende bure hê nie." Hy meen sy gerief is van hom weggeneem om op sy stoep te sit en die mooi uitsig te geniet.
Hy noem verder dat die buurman glo skriftelik aan sy bure kennis moes gee dat hy van voornemens is om 'n grensmuur te bou, wat nie gebeur het nie.
"Jammerlik het die munisipaliteit dit nie in ag geneem, ongeag dat ek hulle van die regspraak voorsien het nie. In die geval moes daar ook eers 'n landmetersertifikaat voorgelê word, wat ook nie gedoen is nie. Die impak op omgewing en bure is hoegenaamd nie in ag geneem nie. Die gevolg hiervan is 'n moontlike drie mure langs mekaar, Stilbaai se eie Berlyn-muur," het hy gesê.
Kommentaar
In kommentaar het die munisipale woordvoerder, Didi Budricks gesê die serwituut reg van weg waarna Snyman verwys, strek in totaal oor drie erwe.
"Hierdie serwituut se doel is om toegang aan die erwe aan die westelike kant van die ontwikkeling te verleen, genoemde erwe nog nie ontwikkel is nie en die gevolglike serwituutpad nog nie gebou is nie. Die serwituut reg van weg is wel op die algemene plan geregistreer en strek oor erwe 4324, 4326 en 4339."
Erf 4339 het 'n pypsteelvorm, maar die pypsteel is eintlik die reg van weg, dus die eiendom waaroor die reg van weg loop, behoort aan erf 4339 wat die dienende perseel is.
"Die eienaar van die dienende perseel mag nie verhoed word om sy eiendom te ontwikkel nie, so lank as wat die heersende perseel (die erwe aan die westelike kant) steeds hulle regte van toegang mag uitoefen langs die serwituut. Die eienaar mag sy grond op enige wyse gebruik wat nie die uitoefening van die serwituut belemmer nie."
Budricks het bygevoeg dat die plasing van 'n hek oor die reg van weg nie per se beteken die onwettige inmenging met die regte van die serwituuthouer nie. Die permitaansoek was blykbaar ook op geen stadium afgekeur en hierna weer goedgekeur nie.
"Dit is egter wel eers goedgekeur na verskeie terreinbesoeke, e-posboodskappe en persoonlike gesprekke plaasgevind het. Mnr Snyman se besware is dus deeglik oorweeg in terme van die relevante nasionale bouregulasievereistes."
Volgens Budricks is Snyman ook deurlopend skriftelik op hoogte gehou van die aansoeke, evalueringsprosedures, asook amptelike besluite met gepaardgaande redes. "Die departemente ontwikkelingsbeplanning, asook regsdienste het reeds op verskeie geleenthede direk met mnr Snyman gekommunikeer," het sy afgesluit.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'