STILBAAI NUUS - Hessequa-munisipaliteit het vanaf 23 tot 31 Januarie werksessies in elke dorp gehou. Die doel was om die beginsels vir die vasstelling van tariewe en die hersiening van beleide en verordeninge met die Hessequa-gemeenskap, eienaars van besighede en ook omliggende landbouers te bespreek.
Uit Stilbaai het slegs agt mense uit die gemeenskap, Suid-Kaap Forum se joernalis ingesluit, die werksessie bygewoon.
Die amptenare en raadslede van die Hessequa-munisipaliteit het uit hul pad gegaan om met die gemeenskap te kommunikeer rakende hierdie belangrike aspek wat almal raak. Dit het egter deesdae mode geraak om eerder steen en been op sosiale media te kla as om die geleentheid te gebruik om eerstehands die inligting te bekom.
Hier volg 'n kort opsomming van die werksessie. Die volledige beleide is beskikbaar by die munisipaliteit en die biblioteke.
Eiendomstariewe het die volgende kategorieë: residensiële eiendom, gaste akkommodasie, besigheidseiendom, plaaseiendom, munisipale eiendom en staatseiendom.
Munisipale eiendom, residensiële eiendom tot 'n maksimum waarde van R50 000, staatseiendom en publieke voordeel organisasies word van eiendomstariewe vrygestel.
Behoeftige eienaars, afgetredenes en mense met gestremdhede kwalifiseer vir afslag en die munisipale kantore kan help daarmee. In geval van rampe, soos 'n huis wat afbrand, kwalifiseer eienaars vir 'n vermindering in tariewe.
Wat elektrisiteit betref, sal almal 'n basiese heffing betaal.
Dit beteken dat jy die basiese heffing moet betaal al het jy daardie maand geen elektrisiteit gebruik nie. Dit dek die infrastruktuurkoste en onderhoud daarvan.
Selfs 'n leë erf het 'n beskikbaar-heidstarief wat betaal moet word. Daar is ook verskillende tariewe vir groter en kleiner stroombrekers. So is daar basiese tariewe vir water, vullisverwydering en riool.
Residensiële eiendom se vullis sal een maal per week verwyder word en besighede s'n ten minste twee keer per week. Om in aanmerking te kom vir deernisafslag moet die aansoeker in die Hessequa-munisipale gebied woonagtig wees en oor 'n Suid-Afrikaanse ID beskik. Die munisipale raad sal aan die begin van elke finansiële jaar die totale maandelikse bruto inkomste bepaal waarbinne 'n eienaar moet val om te kwalifiseer.
Verder mag die maandelikse elektrisiteitsverbruik nie hoër wees as 350kWh nie en maandelikse waterverbruik moet minder as 15kl wees.
Die aansoeker vir deernisafslag mag ook nie een of twee voertuie met 'n maksimum markwaarde van R100 000 besit nie.
Hierdie is net 'n oorhoofse opsomming en enige kommentaar kan gerig word aan Winston Joseph by info@hessequa.gov.za
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'