Video
HESSEQUA NUUS EN VIDEO - Vir baie mense is braai deel van hulle erfenis en koester dit die mooiste herinneringe van hul kinderdae tot nou.
Maar wat maak 'n braai-kuiertjie suksesvol? Suid-Kaap Forum het besluit om ondersoek in te stel en het gevind dat braaibroodjies beslis 'n groot rol speel, vergeet enigiets, maar net nie die braaibroodjies nie.
Volgens Aletta Sutherland, Heidelberg korrespondent, was een van haar vereistes voor sy trou juis dat haar man 'n braaibroodjie reg moet braai.
"Dit moet 'crispy' wees en nie te donker nie, net soos my pa, Chris van Schalkwyk, dit doen."
Vir inwoners van Heidelberg is die regte vriende baie belangrik. Lettie Breytenbag sê: "Lekker pêlle wat net so 'matured' is soos jou tjops of steak en saam met jou is soos goeie rooiwyn, of brandewyn verouderd in dieselfde vat in 'n bekende kelder. Dan praat jy nie nonsens nie."
Marius de Beer weet uit ondervinding wat 'n braai onsuksesvol maak. "'n Klomp dronk mans wat nie weet wanneer om op te hou drink en te begin braai nie."
Smiley Cronjé hou van 'n vol glas, almal wat saamstem oor hoe gaar die vleis moet wees "en lekker geselskap wat politiek en kerksake uitsluit."
Uit 'n vegetariër se oogpunt kan Manon Theunissen van Swellendam steeds 'n braai geniet. Sy vervang haar vleis met 'n groenteburger, vegetariese wors en aartappelslaai. Stilbaaier Adéle Griffiths verkies ook goeie vriende "en 'n lekker glasie wyn."
Vir Ané Silva van Riversdal is dit belangrik dat hartsmense saam kan kuier en lag "sonder enige ongemak, met natuurlik 'n braaibroodjie in enige vorm en na die tyd moet jy kan sê - dit was nou lekker."
Kyk 'n video onder:
Maak seker jou braaikuiertjie op Erfenisdag 24 September bevat al die suksesvolle bestanddele, sodat die mooi herinneringe nog lank nadat die vuur uitgebrand is, in jou hart kan voortbrand.
Klik hier vir 'n vorige artikel: Sò braai jy
ARTIKEL EN VIDEO: ALETTA SUTHERLAND, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'