TUINROETE NUUS - Die Wes-Kaapse minister van gesondheid, Nomafrench Mbombo, is vandeesweek in die Tuinroete vir 'n oorsig oor die Covid-19-inentingsprogram.
Sy sal vandag, Donderdag 5 Augustus, in Calitzdorp wees. Sy het Bitou Dinsdag besoek en was gister (Woensdag) in Mosselbaai, wat 'n baie hoë registrasiesyfer het.
Volgens Nadia Ferreira, distrikswoordvoerder vir gesondheid, is 86% van mense wat tans vir inenting kwalifiseer, al in hierdie subdistrik geregistreer.
Ferreira het gesê die tempo van inenting word gekortwiek deur die tekort aan entstofvoorraad van die nasionale regering af, maar van volgende week en die week daarna word groter voorrade verwag.
Daar is in die sewe dae tot en met Maandag 2 Augustus, 3 003 nuwe Covid-gevalle in die Tuinroete aangeteken.
Volgens Ferreira, het 141 persone in hierdie tydperk weens Covid-19-komplikasies gesterf.
George het 1 269 aktiewe gevalle per 100 000 van die bevolking en Mosselbaai-subdistrik 1 177, volgens die Covid-19-paneelbord. In George was daar op 2 Augustus die meeste aktiewe gevalle (2 649) en in Mosselbaai die tweede meeste (1 122).
Ferreira het gesê dit is belangrik dat mense Covid-protokolle nakom om te help om die verspreiding van die virus te verminder. Die George-streekhospitaal bly onder druk.
Daar was op 2 Augustus 84 Covid-19-pasiënte in die hospitaal van wie 22 in die intensiewesorgeenheid was. "Dit is 'n klein verbetering vergeleke met verlede week.
Harry Comay-hospitaal, 'n rehabilitasie-fasiliteit vir mense wat uit George-hospitaal ontslaan word, verkeer ook onder druk. Alle distrikshospitale is baie besig en ervaar 'n toename in Covid-19-toelatings. Suurstofvoorraad is voldoende."
Inentingsprogram
Die distrik het minder entstofdosisse van die nasionale regering ontvang vir hierdie week.
"Ons departement werk hard agter die skerms om te verseker dat ons bykomende dosisse in die hande kry om te voorsien in die hoë vraag. Dit beteken dat van ons inentingspersele onder druk is en ons vra vir die publiek se geduld. Ons doen alles moontlik om beskikbare voorrade na elke hoek van ons provinsie uit te kry," het Ferreira gesê.
Die Thembalethu-gemeenskapsdagsen-trum (CDC) het gister, Woensdag 4 Augustus, begin om instapkliënte in te ent met 600 Johnson & Johnson-dosisse wat beskikbaar gestel is. Mense kan tot môre, 6 Augustus, daar aanmeld vir hierdie enkeldosis-inenting.
Die prioriteit vir instap-kliënte is soos volg:
Prioriteit 1: Mense 60 jaar en ouer wat hul eerste en tweede Pfizer-dosis moet kry.
Prioriteit 2: Mense van 50-59 jaar wat hul eerste Pfizer-dosis benodig.
Prioriteit 3. Mense van 35-49 jaar wat hul eerste Pfizer-dosis benodig.
Mninister Nomafrench Mbombo het die inentingsperseel by The Crags-kliniek in Plettenbergbaai Woensdag besoek.
'Ingeënte individue versprei steeds Delta-variant'
Nuwe navorsing wat in 'n interne verslag aan die Centers for Disease Control and Prevention (CDC) van Amerika voorgelê is, toon dat die Delta-variant mense sieker maak as die ouer variante en meer aansteeklik is as die virusse wat Ebola, Mers, Sars en pokke veroorsaak.
Dit is ewe aansteeklik as waterpokkies. Dit is volgens die Washington Post en New York Times.
Hulle berig dat ingeënte individue steeds die virus versprei, maar "waarskynlik teen 'n laer graad" as oningeënte mense. Viruslading in die lugweë is 10 keer hoër met die Delta-variant as met die Alpha-variant, wat ook hoogs aansteeklik is.
Daar is 'n hoë graad van deurbreekinfeksies in ingeënte individue, maar die entstowwe bied steeds beskerming teen ernstige siekte en dood, volgens die berigte.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'