HESSEQUA NUUS - Baie vrae het ontstaan oor die gerugte wat die ronde doen dat die munisipaliteit 'n R12 miljoen-toekenning vir die menslike nedersettingsontwikkeling op Melkhoutfontein teruggevat het.
Hessequa-munisipaliteit het in 'n persverklaring gesê: "Die toekenning vanaf Wes-Kaap Provinsie vir die ontwikkeling is nie teruggeneem nie, maar word uitbetaling bepaal volgens die aantal kwalifiserende begunstigdes."
Volgens Elias Dayimani, ANC Hessequa-sweep was daar 'n item rakende die aanpassingsbegroting op die raadsvergadering van 30 Januarie en is die begroting moontlik afwaarts aangepas nadat dié bedrag vir behuising deur die provinsie verminder is.
Die munisipaliteit noem dat die aantal erwe dieselfde gebly het, maar topstrukture is minder.
"Al die begunstigdes wat aansoek gedoen het, het nie aan die kwalifiserende kriteria voldoen nie.
"Behuisingstoekennings wat voorlopig volgens die maksimum aantal begunstigdes by Harmoniepark-noord informele gebied bepaal is, is nou afwaarts aangepas toe die werklike aantal begunstigdes bekend geraak het."
Volgens Dayimani verstaan hulle as ANC nie wanneer die DA/VF-koalisie sê die mense verloor niks nie.
"Woorde soos 'verminder, minder, afwaarts aanpas' en so meer beteken mos dat iets minder geraak het.
"Aansoek is deur die munisipaliteit gedoen vir 171 huise. Hulle het geld vir die bou van 171 huise ontvang. Die DA/VF het nie hul werk reg gedoen nie en is slegs 107 topstrukture goedgekeur.
"Dit wil sê die aantal huise het minder geraak."
Die munisipaliteit bevestig dat 107 begunstigdes topstrukture ontvang het. Addisionele geld is vanaf provinsie verkry, soos R600 000 vir die elektriese meesterplan.
"In terme van die begrotingsregulasies moet die raad 'n aansuiweringsbegroting ter tafel lê om voorsiening te maak vir die toekenning of allokasie van addisionele skenkings/subsidies vanaf nasionale en provinsiale tesourie.
"Die veranderde toekennings aan munisipaliteite word in die provinsiale koerant gepubliseer na die provinsiale aansuiweringsbegroting goedgekeur is. Hierdie aanpassings het nie 'n impak op die raad se interne fondse nie," aldus die munisipaliteit.
Dayimani noem dat dit 'n duidelike bewys is dat die DA/VF nie eerlik is nie.
"Omdat hulle die behuisingslyste gemanipuleer het, het sekere aansoekers nie gekwalifiseer nie. Daar is 'n groot behuisingsnood oral in Hessequa."
Die persverklaring noem dat artikel 72 van die MFMA (Municipal Finance Management Act) munisipaliteite verplig om dienslewering, prestasie teen voorafbepaalde teikens en gemeenskapsboehoeftes soos bepaal deur die dienslewerings- en begroting implementeringsplan (SDBIP) en geïntegreerde ontwikkelings plan (GOP) te evalueer.
"Die aansuiweringsbegroting, soos voorgeskryf, evalueer die prestasie van die munisipaliteit gedurende die eerste helfte van die finansiële jaar, met inagneming van maandverslae vir die eerste helfte van die finansiële jaar, asook die munisipaliteit se diensleweringsprestasie gedurende die eerste helfte van die finansiële jaar en die diensleweringsdoelwitte en prestasie-aanwysers wat in die implementeringsplan gestel word."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'