RIVERSDAL NUUS - Die menslike geraamte wat verlede week op die oewer van die Goukourivier naby Soetmelksrivier gevind is, is nog nie geïdentifiseer nie.
Die geraamte is Donderdagmiddag 31 Januarie deur vier mans gevind wat indringerbome langs die rivier op Frans van Wyk se plaas afgesaag het.
Joël Pieterse, Frederik Pietersen, sy neef Francois Pietersen en Barnett Esau het al 'n groot stuk van die rivieroewer skoongemaak toe die brandstof in Pieterse se saag opraak.
Pieterse vertel dat hy dié middag in die oopte waar die bome eers dig opmekaar gestaan het, 'n baadjie wat aan 'n stomp hang gesien het, maar nie veel aandag daaraan geskenk het nie.
"Ek het staan en wag terwyl die ander die saag se tenk weer vol petrol maak. Skielik was dit asof iets vir my sê ek moet omkyk," vertel hy. "Toe sien ek die wit skedel tussen die gras in 'n sloepie lê. Ek het eers gedink dit is 'n gedierte se skedel, maar aan die vorm kon ek aflei dis 'n mens s'n. Ek het die ander geroep om te kom kyk, maar hulle het eers gedink ek maak 'n grap."
Toe onthou Esau dat hy êrens nog beendere gesien het en toe hulle ondersoek instel, merk hulle dat daar beendere in die baadjie en 'n hemp onder die baadjie vasgevang is.
Hulle het dadelik vir Van Wyk laat weet, wat die polisie in kennis gestel het. Hulle het die beendere kom haal en na die lykshuis geneem.
"Ons was nogal geskok en het nie dié middag verder gewerk nie, maar is huis toe. Dit bly by 'n mens spook," sê Pieterse.
Intussen word bespiegel oor wie die persoon kon wees. Jaco Pretorius van die forensiese patologie afdeling is besig om leidrade op te volg om die persoon se identiteit vas te stel.
As deel van die geregtelike doodsondersoek wat die polisie gelas het, sal die staatspatoloog in George probeer vasstel wat die persoon se dood veroorsaak het. 'n Antropoloog sal ook die beendere ondersoek om vas te stel wat die geslag en ouderdom van die persoon was en of daar enigiets is waaraan die persoon geïdentifiseer kan word.
Joël Pieterse wys presies waar hy die witgebleikte skedel gevind het.
Frederick Pietersen, Joël Pieterse, Francois Pietersen en Barnett Esau het indringerbome op die oewer van die Goukourivier gesaag toe hulle op ’n menslike geraamte afgekom het.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'