Update
MELKHOUTFONTEIN NUUS - 'n Talentvolle jong kunstenaar van Melkhoutfontein, Jaydin Deutchen is deur Richard Webb van Stilbaai opgemerk toe jeuggroepe twee van sy aanbiedings in Melkhoutfontein bygewoon het.
Webb het, in samewerking met Christel Cloete en sers Chrissy Lewaks van Stilbaai-polisie 'n gebied geïdentifiseer waar sy ervarings en kennis 'n bietjie waarde tot die lewens van mense kan toevoeg wat in agtergeblewe omgewings woon.
"Ons probeer praktiese voorbeelde neem om nuuskierigheid en belangstelling aan te moedig en dan te hoop dat hulle op hul eie na meer gaan soek."
Jaydin se ma, Esmé het vertel dat hy reeds op driejarige ouderdom prentjies begin teken het. In graad 1 het hy karakters van Dragonball-Z van die televisie af geteken. Aanvanklik was van sy maats se sketse beter, maar hy het mettertyd tot so 'n mate verbeter dat hulle vir hom gevra het om vir hulle sketse te maak om te verkoop.
In graad 3, toe Jaydin se maats motors teken het hy op trokke gefokus, maar hy het weer na Dragonball-Z teruggekeer.
In graad 5 was daar 'n kunskompetisie by die skool en een van sy maats het hom gevra om vir hom 'n leeu te teken. Die maat het die skets vir die kompetisie ingeskryf en was as die wenner aangewys.
In graad 7 het hy mense begin teken. Hy doen dit gewoonlik van foto's af en vir al sy sketse gebruik hy net potlood. In daardie tyd het hy na die rolprent Titanic gekyk en onmiddellik geweet dat hy daardie skip wil bou.
"My eerste pogings was met die swart hardeband buiteblaaie van my skool werkboeke, wat ek met kleeflint aanmekaargeplak het," vertel hy.
"Dit het ongelukkig nie lank gehou nie en uitmekaar geval." Hy het tot die volgende jaar gewag om weer ou boeke te hê en bou 'n beter skip. So het dit aangegaan, tot hy na karton oorgeslaan en dit met houtlym aanmekaar geheg het.
Die Titanic waarmee hy nou besig is, is 2.5 meter lank en alles is van karton, afvalpapier en garing. Hy het dit vir 'n wyle eenkant toe gestoot en aan die Lusitania begin bou, maar Cloete, wat ook baie met die opbou van die gemeenskap betrokke is, het hom aangeraai om eers die Titanic klaar te maak.
Al wat nou nog oorbly, is 'n bietjie verfwerk.
Modelbou is egter nie Jaydin se eerste liefde nie. "My groot droom is om 'n skilder te word, of selfs 'n loopbaan in argitektuur of ingenieurswese."
Indien enigiemand hierdie jong kunstenaar onder sy/haar vlerk wil neem en as mentor wil optree, spesifiek met verf as medium kan hy by 071 638 1632 geskakel word.
Vorige artikel: 'n Kunstenaar in wording
'n Klasmaat wat hy van 'n foto afgeteken het.
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'