Update
HESSEQUA NUUS - Tydens 'n geweldadige plaasaanval gaan jy heel moontlik op jouself aangewese wees.
Dis die slotsom waartoe AfriForum kom met die bekendmaking van hul 2019-statistiek oor plaasaanvalle en -moorde op Woensdag 19 Februarie.
Volgens Lorraine Claasen, die organisasie se misdaad-analis, was daar 552 plaasaanvalle in 2019 teenoor 2018 se 433 gevalle - 'n toename van meer as 100 gevalle (27%).
"Byna 1 000 mense was slagoffers in hierdie plaasaanvalle." In 2019 was daar 57 plaasmoorde - drie meer as in 2018. Die meeste van hierdie moorde het in die Vrystaat voorgekom, terwyl 30% van die plaasaanvalle in Gauteng plaasgevind het.
"AfriForum se data bewys dat landelike gemeenskappe besig is om meer weerbaar te word en terug te baklei. Dit is duidelik dat ons nie op die regering kan staatmaak om maatreëls in plek te stel om landelike gemeenskappe te beveilig nie, daarom is dit so belangrik dat mense weet hoe om hulself te beskerm," sê sy.
As teenvoeter vir misdaad het die organisasie 150 gemeenskaps-veiligheid-strukture met meer as 12 000 aktiewe lede wat opleiding kry om hulle meer weerbaar te maak, landwyd op die been gebring.
In Hessequa bestaan die Riversdal-buurtwag uit 330 lede, terwyl die eweknie op Stilbaai, Albertinia en Heidelberg altesaam 150 lede het. Die Goukou-plaaswag het 315 lede.
"Net minder as die helfte van die lede is heeltyd aktief betrokke en ry dag en nag patrollie," sê Johan Crous, sakeman en voorsitter van die Goukou-buurtwag in Riversdal.
"Dit beteken dat ons enige tyd van die dag of nag binne minute en selfs sekondes lede op die toneel kan kry. Dit is een van die redes waarom die benadering suksesvol is: elke aanval word evalueer, 'n besluit word geneem oor die optrede wat nodig is en wat gedoen moet word om 'n volgende aanval af te weer. Ons werk ook deurentyd daaraan om die reaksietyd te verkort sodat mense in die geval van byvoorbeeld 'n plaasaanval gehelp kan word."
Volgens Crous is daar beslis 'n toename in misdaad in die streek. "Ons sien baie vreemde mense uit verskillende dele van die land, maar veral uit Gauteng en die Oos-Kaap. Wanneer die buurtwag hulle tydens patrollies in die dorpsgebied ondervra, is die antwoord gewoonlik dat hulle werk soek en dink hier is werk, of hulle het glo familie hier."
Van hulle kry los werkies by boukontrak-teurs, want weens die droogte is daar nie werk op plase nie, wat reeds die plaaslike gemeenskappe werkloos laat. "Die mense van elders vererger die sosio-ekonomiese probleem, want buiten dat hulle 'n las op infrastruktuur en dienste plaas, dra hulle by tot groter werkloosheid wat tot meer misdaad lei."
Vorige artikel: Plaas- en buurtwag, die bewakers
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'