RIVERSDAL NUUS - Matrikulante het in Oktober hulle eindeksamen met gemengde gevoelens begin aflê. Verskeie emosies het die afgelope weke te voorskyn gekom, maar hierdie week is die gevoel baie ligter, asof hulle uitsien daarna om die laaste vraestel op 2 Desember te voltooi.
Om af te sluit het Suid-Kaap Forum matrikulante in die Hessequa-streek gevra wat hulle toekomsplanne is, en waar hulle hulself oor vyf jaar sien.
Elkeen het groot drome en planne vir 'n gevestigde loopbaan van hul keuse of net om hul eie inkomste te verdien.
Leerders het soos volg geantwoord:
Jan Fick: "My planne vir die toekoms is om verder te studeer en 'n goeie graad te kry sodat ek iets agter my naam het. Ek sal graag oorsee wil gaan vir 'n paar jaar, moontlik om op 'n plaas te werk, sodat ek ondervinding kan kry en natuurlik goeie geld kan maak. Ek kan nie presies sê waar ek oor vyf jaar gaan wees nie, hopelik klaar studeer en hard aan die werk."
Stephan Erasmus: "Ek het groot planne vir die toekoms. Ek gaan eers vir vier jaar BSc IT-sekuriteit en netwerkingenieurswese in Kaapstad studeer. Dit is iets wat ek nog altyd wou doen vandat ek kan onthou. Ek sien myself oor vyf jaar as 'n hardwerkende jong man wat 'n goeie salaris verdien. Ek sal graag vroeg wil aftree met baie geld en 'n pragtige vrou en kinders."
Stephan Erasmus
Hoërskool Langenhoven
Jaylin Saayman: "Ek sien uit daarna om volgende jaar in George te gaan studeer in die skoonheidsbedryf. Dis my passie en ek wil myself graag daarin uitleef. Ek sien myself oor vyf jaar as 'n gekwalifiseerde skoonheidsghoeroe.
Jaylin Saayman
Grant du Preez: "Ek gaan definitief in Stellenbosch vir 'n modeontwerper verder studeer. Oor vyf jaar wil ek reeds 'n gevestigde ontwerper wees wat alombekend is vir my unieke ontwerpe."
Grant du Preez
Gerrit du Plessis Senior Sekondêr
Jesslin Jaylin Prins: "My planne vir die volgende vyf jaar het reeds hierdie jaar begin. Ek is gemotiveerd en vasbeslote om my matriekjaar goed genoeg te vorder, sodat ek vir verdere studies kwalifiseer. Dit is 'n jare lange droom van my om onderwys te studeer weens my liefde vir kinders en die passie om hulle die regte leiding vir hul eie toekoms te gee. Ek glo met vertroue dat ek 'n verskil kan maak in ander se lewens omdat ek 'n verskil wil maak."
Jesslin Jaylin Prins
Amber Klaasen: "Ek sien myself nog steeds groei in die beroep waarin ek gaan. Ek gaan verder studeer nadat ek drie jaar by die verpleegkollege voltooi het. Ek wil graag aanhou om my vaardighede en kennis te ontwikkel om meer dieper in medies in te gaan. Ek sien ook uit daarna om meer by publieke klinieke aan te sluit om hulle te help, al verdien ek nie 'n inkomste nie."
Amber Klaasen
Hoërskool Albertinia
Lieschen Witbooi: "My toekomsplanne is om te gaan studeer en 'n sukses van my lewe te maak. Oor vyf jaar sien ek myself as 'n maatskaplike werker wat kinders se lewe kan verander en hulle 'n goeie huis gee waar hulle baie liefde sal ontvang."
Lieschen Witbooi
Jesse Hermanus: "My toekomsplanne is om weermag toe te gaan, sodat ek my land kan beskerm. Oor vyf jaar wil ek reeds my tweede rang behaal. Ek sal alles in my vermoë doen om vir my familie te sorg."
Jesse Hermanus
Hoërskool Heidelberg
Nashwaan Alberts: "My kop is propvol planne en drome. Ek wil arbeidsterapie studeer by die Universiteit van Wes-Kaap of Stellenbosch. Ek sien myself oor vyf jaar as iemand wat so pas my beroep begin het, reg om 'n merk te los deur mense se lewens te verander."
Nashwaan Alberts
Rolande Jacobs: "Dis iets waaroor ek vantevore baie oor nagedink het. Ek gaan volgende jaar onderwys studeer. Ek is reeds voorlopig aanvaar by verskeie instellings en ek is baie opgewonde vir daardie ervaring wat voorlê. Oor vyf jaar wil ek baie graag 'n permanente pos hê by 'n skool in 'n minderbevoorregte buurt. My doelwit is om leerders se lewens te verander en 'n verskil te maak in ten minste een kind se lewe. Die lewe is moeilik en elkeen het die liefde en ondersteuning nodig."
Rolande Jacobs
Kairos Senior Sekondêr
Monique September: "Ek beplan om volgende jaar by die polisie aan te sluit aangesien daar na my mening soveel geweld in ons land is. Ons kinders moet veilig gehou word en beter beskerming geniet. Ek wil dus graag 'n diens aan my land en gemeenskap lewer deur mense te beveilig en te beskerm. Oor vyf jaar sien ek myself deels in die modewêreld. Ek het 'n passie vir modelwerk en ek sal graag dié stokperdjie van my as 'n moontlike tweede beroep wil beoefen."
Monique September
Ruwayden Vyfers: "Ek sien myself in die sakewêreld. Ons het juis Dinsdag besigheidstudies geskryf en dit het my deeglik voorberei vir die keuse van my studierigting volgende jaar. Ek gaan in 'n besigheidsrigting swot en wil graag oor vyf jaar een van die bestuurders by 'n groot firma wees. Ek sou baie graag my eie besigheid wil besit - moontlik iets in die landbou- of mynboubedryf."
Ruwayden Vyfers
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'