RIVERSDAL NUUS - Die Community Animal Rescue Society (Cars) in Hessequa, vrywilligers van Riversdal en Envirovet CVC van Joostenbergvlakte het kragte saamgespan om verlede Donderdag, 2 Junie, 'n massasterilisasie- en inentingsprogram in Riversdal by die Riverville-klubsaal aan te pak.
Daar was altesame 96 pasiënte op die lys, maar die veearts van Envirovet CVC, dr. Annelise Roos, kon slegs 50 honde en katte by haar program inpas.
Onder die honde is altesame vyf reuns en 22 tewe gesteriliseer en onder die katte drie mannetjies en 16 wyfies. Twee dragtige honde is ook behandel terwyl twee honde weens kanker en brandwonde uitgesit moes word.
Nog 'n hond se been is by die Riversdal-dierekliniek geamputeer.
Cars pak kwartaalliks massasterilisasies in dorpe in die Hessequa-streek aan. Dié organisasie word deur die Hessequa-munisipaliteit geborg, maar maak op weldoeners in die gemeenskap staat vir enige skenkings.
Hulle verkoop ook lootjies en skildery om ekstra geld te in.
Sue Spohr, 'n vrywilliger van Riversdal, maak 'n hond versigtig toe met 'n kombers nadat sy gesterisileer is. Vrywilligers het by al die pasiënte gewaak todat hulle weer bygekom het ná hul operasies..
Dié span van die Community Animal Rescue Society (Cars) in Hessequa, vrywilligers van Riversdal en Envirovet CVC wat verlede Donderdag, 2 Junie, betrokke was by 'n massasterilisasie- en inentingsprogram in die dorp. Foto's: Hugo Redelinghuys
Dr. Annelize Roos, 'n veearts van Envirovet CVC van Joostenbergvlakte, maak gereed om die eerste kat te steriliseer.
Selina Mjijwa (Envirovet CVC) berei die eerste hond voor vir sterilisasie.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'