RIVERSDAL NUUS - Die ANC (Hessequa) het Vrydagmiddag 26 Mei 'n massa protesoptog op die dorp gehou.
Dinge het byna handuit geruk toe van die optoggangers bande aan die brand gesteek en verkeer versper het by die ingang van die dorp op die N2. Polisie het ingegryp en die ANC speaker, Elias Dyamani gewaarsku dat vir 'n vreedsame optog aansoek gedoen is.
Hierna het die polisie die groep verder deur die dorp se strate vergesel.
Ongeveer 150 ANC en ICOSA lede het voor die burgersentrum op die dorp saamgedrom. Van die persone was van so ver as Knysna afkomstig. Hulle is kortliks deur onderskeie leiers betrokke in ANC-strukture toegespreek.
Cameron Dugmore, Hessequa LLP het kortliks genoem dat dienslewering, kragtariewe en deernishulp van die kwessies is wat aangespreek moet word.
Chris Taute, Hessequa raadslid het genoem dat die DA/VF+ koalisie beoog om op Dinsdag 30 Mei 'n begroting goed te keur. "Ons vra julle om die memorandum te eerbiedig, asook die ANC se 75 insette vir die begroting in ag te neem." Volgens hom word die raad tot Maandag 29 Mei geleentheid gegun om te reageer. 'n Lid van die jeugliga het die skare meegedeel dat, indien dit nie gebeur nie, Hessequa sal brand.
Rdl Grant Riddles, uitvoerende burgemeester en Johan Jacobs, munisipale bestuurder het die memorandum ontvang en onderteken.