Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Die Green Fingers-tuinbouklub het Saterdag 1 Februarie 'n markdag wat alle verwagtinge oortref het, aangebied.
'n Feestelike atmosfeer, verder opgevrolik deur musiek, het besoekers verwelkom.
Daar was iets vir 'n ieder en elk - van die jongstes wat hul gô op die springkasteel uitgespeel het, tot die statige dames en oues van dae wat lekker koek en tee onder sambrele by die langtafel geniet het.
Sowat 30 uitstallers uit die hele Hessequa-streek het hul keurige ware en watertand produkte in die NG Kerk Riversdal-Wes se saal aangebied.
Die heerlikste gebak en ander eetgoed soos kaas en brode, heuning, leeritems en mandjies, naaldwerk en skoonheids- en gesondheidsprodukte het groot belangstelling ontlok en daar is flink sake gedoen.
"Ons het maande lank die eiesoortige markdag beplan," sê Anzette Finnemore, wat die mark help reël het. "Ons het vir die uitstallers gevra om hul eie stempel op die mark af te druk en ons is aangenaam verras met elkeen se aanbieding."
Kyk 'n video hieronder:
"Dis niks soos 'n kerkbasaar nie, maar alles en nog meer wat mens op so 'n basaar sou verwag is hier," het Lettie Murray gesê.
Besoekers van heinde en ver het die jolige atmosfeer geniet. Volgens Finnemore het besoekers van so ver as George by die mark opgedaag. "Hulle het spesiaal gery om die mark by te woon. Hulle sê hulle het nooit so iets in Riversdal verwag nie!"
Buite het die tuinboukklub se eie stalletjie - vanselfsprekend - plante en ander vrugte van die tuinbouers se handewerk verkoop. "Ons het baie positiewe terugvoer ontvang, maar ons sal nog besluit wanneer die volgende mark plaasvind," sê Finnemore.
Daar is lekker oor ’n koppie koffie en smulkos by die mark gekuier. Foto’s: Tisha Steyn
Die stalletjie het na rose geruik.
Lees 'n vorige artikel: Markdag vertoon Hessequa se beste
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'