STILBAAI NUUS - Op 18 Julie is Mandeladag behoorlik in Stilbaai en Melkhoutfontein gevier.
In Stilbaai het die Stilbaai GPF polisielede, wat van diens af was en vrywilligers instandhoudingswerk by die Stilbaai-polisiekantoor gedoen.
Alison Bryant, voorsitter van die Stilbaai GPF, was self hard aan die woel en het hand bygesit om van die groter bome by die ingang van die polisiestasie weg te snoei. Daar is ook heelwat verfwerk aan die binnekant van die gebou gedoen. Die verf is deur die polisie verskaf.
In Melkhoutfontein het die Soetfontein Senior Burger Klub, in samewerking met Engen in Stilbaai, sop en broodjies vir die bejaardes van Huis Soeterus gegee en daar was genoeg om ook aan ander hongeres te voorsien.
Raadslid Reneè Davids, Badisa en Werk Vir Vuur oorhandig komberse in Melkhoutfontein.
Albert Cloete, voorsitter van die Soetfontein Senior Burger Klub, het gesê ter nagedagtenis aan Madiba se nalatenskap is op die sop en broodjies besluit.
Die doel van die klub is om aan Melkhoutfontein se bejaardes die geleentheid te gee om uit hulle huise te kom en sommer net lekker te kuier en met ander mense te gesels. Baie bejaardes sit net dag in en dag uit in hulle huisies vasgekluister en die klub wil dit verander.
Hulle wil hê dat soveel as moontlik mense ouer as 55 by die klub moet aansluit en meedoen met hulle aktiwiteite. Hulle reël byvoorbeeld praatjies oor gesondheid en finansies en hulle gaan ook gereeld op uitstappies.
Badisa in Stilbaai het weer deur Melkhoutfontein se strate gestap om komberse, truie en musse uit te deel. Dit sal darem die koue bietjie uithou.
Sers. Granvill Jantjies, André Boezak (albei SAPD), Beryl Prins (GPF), Alison Bryant (voorsitter Stilbaai GPF, André Esau, John Francis (vrywilligers) en ao. Morné D'Emiljo (bevelvoerder van sigbare polisiëring) voor die Stilbaai-polisiekantoor.
Alison Bryant (voorsitter van Stilbaai GPF) en Beryl Prins besig om van die groter bome voor die polisiestasie weg te snoei.
Albert Cloete en Sharon Davids maak seker dat alles vlot verloop, terwyl Joan Oktober sop skep.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’