Update
ALBERTINIA NUUS - 'n Vragmotor wat aan CJ Partners van Port Elizabeth behoort het kort na middernag op Vrydag 11 Mei op die N2, 15 km buite dié dorp aan die brand geslaan.
Die bestuurder van die vragmotor, Francois Conradie, was vanaf Port Elizabeth met sy vrag katalisators (die binnekant van uitlaatstelsels wat giftige gasse verwyder) onderweg.
"Ongeveer 30 km buite Mosselbaai het die regterkantste voorwiel gebars en moes ek alles in my vermoë doen om beheer oor die vragmotor te behou. Ek was bevrees dat dit in die sloot langs die pad sou beland en dan sou omslaan," het hy aan Suid-Kaap Forum op die toneel gesê.
Geen ander voertuie was in daardie stadium op die pad nie. Hy kon nie rem trap nie, omdat dit ook die vragmotor kon laat rol.
Conradie het meteens vlamme onder die vragmotor se voorkant sien uitkom en kon betyds en ongedeerd uit die kajuit kom. "Daar was nie eens tyd om my sigarette te gryp nie."
Verkeer is na die Gourits-pad herlei tot die brand, wat na die veld aan weerskante van die pad versprei het, geblus en veilig was.
'n Stop-en-ry is later in plek gestel tot die vragmotor verwyder is.
Hoewel die brandweer redelik gou op die toneel was, kon die vragmotor en sy inhoud nie gered word nie.
Lees 'n vorige artikel: Truck on N2 caught fire
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'