Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - 'n Middeljarige man het ernstige beserings opgedoen nadat hy met die agterwiel van 'n aankomende vragmotor in Garciapas gebots het.
Die ongeluk het op Dinsdag 24 November omstreeks 14:00 plaasgevind terwyl hy in rigting Riversdal gery het. Hy was in die wrak vasgepen en nooddienswerkers moes hom bevry waarna hy na Riversdal-hospitaal geneem is.
Volgens die vragmotorbestuurder het hy die bakkie sien aankom en probeer padgee. Hy het 'n paar keer toeter geblaas om die man se aandag te probeer kry, maar dit was tevergeefs. Die bestuurder van die bakkie het met 'n agterwiel van die vragmotor gebots en oor die pad gery waar dit tot stilstand gekom het.
Indien die voertuig nie daar gestop het nie, sou dit oor die afgrond aan die regterkant van die pad gery het. 'n Man, wat minute na die ongeluk op die toneel aangekom het, het gesê dat die bestuurder van die bakkie bykans geen polsslag gehad het nie.
"Ek was vir baie lank 'n verpleër en kon duidelik sien dat hy iets makeer en nie net in skok was nie. Hy was baie verward. Ek het dadelik sy pols gevoel en hom met 'n klein kombersie probeer toegooi teen die koue en reën. Hier is geen selfoonopvangs in die pas nie en ek kon niemand skakel nie.
"Gelukkig het twee bekendes daar aangekom en ek het hulle toe gevra om die ambulans te ontbied. Dit het vir my voorgekom of die man 'n ligte hartaanval of beroerte kon gehad het," het die man vertel.
Hessequa-brandweer en nooddienste, sowel as die forensiese patologiese dienste en plaaslike polisie was op die toneel.
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel: Man stop paar meter voor afgrond
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus.'