RIVERSDAL NUUS - Die bekende Makadas-lokomotief op die plein oorkant die munisipale kantore gaan binne en aan die voorkant opgeknap word.
Die grasperk voor die lokomotief is reeds deur flukse werknemers van die munisipaliteit onder hande geneem. Hulle het op eie inisiatief ingespring om die stuk grond op te knap en besproeiing te installeer.
Andrew Stroebel, voorsitter van Hessequa se munisipale raad, het eerstehands aan Suid-Kaap Forum vertel werknemers van die afdeling eiendomsbestuur het aanvanklik begin om die tuine by die burgersentrum op te knap en gereeld in stand te hou.
"Nou het dié inisiatief na Makadas se staanplek oorgespoel en het die werknemers uit eie beweging besluit om die grasperk voor die lokomotief ordentlik te versorg. Dis 'n liefdestaak wat hulle met groot entoesiasme gratis verrig.
"Dis hul bydrae om Riversdal in 'n mooier en skoner omgewing vir sy inwoners en besoekers te omskep. Dis mense wat hul trotsheid vir die dorp en sy mense op dié manier wil bewys en hoop dit steek ander aan om soortgelyke projekte op eie inisiatief aan te pak."
Stroebel sê hulle gee die grassnyer en besproeiingspype en die tegniese span van eiendomsbestuur doen die res. Die volgende stap is om die interieur van Makadas op te knap. "Die voorkomsverandering sluit in die afskuur en voorbereiding van die binneste panele en dan 'n paar lae verf om dit af te rond."
Hierdie projek is alles tot voordeel van die gemeenskap, sê Stroebel. "Dis belangrik dat belastingbetalers sien wat met hul geld gebeur en presies hoe dit bestee word. Dan voel inwoners veel gemakliker om tot die staatskas by te dra, want ons glo nie daarin om geld te vermors nie.
"Hessequa-munisipaliteit plaas 'n hoë premie op die instandhouding van die dorp se bates, want dis belangrik om by inwoners 'n trotsheid op hul dorp te kweek. As dit wegval, is die verval en agteruitgang ons voorland soos wat reeds in baie ander dorpe in Suid-Afrika gebeur. Ons sal dit beslis nie toelaat nie."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'