SUID-KAAP NUUS - Die jaarlikse straatmyl-reeks gedurende die Desembervakansie word vanjaar weer in drie wedlope in drie Garden Route-dorpe aangebied.
Vanjaar word daar weer spesiale gemeenskapsprojekte op sekere strande aangebied om die algemene vakansiepubliek ook te betrek. Soos verlede jaar, word medaljes weer toegeken - en dit saam met 'n prysgeldbeurs van R80 000 gaan die top atlete beslis na die distrik stroom.
Die eerste been van die reeks, die Bestmed Klein-Karoo straatmyl word op Oudtshoorn in Baron van Reedestraat op 17 Desember aangebied; die tweede been, die Bestmed Madibaz straatmyl vind op die NMU George-kampus op 19 Desember plaas en die derde been vind op 21 Desember by die ATKV-terrein op Hartenbos plaas en staan as die Bestmed ATKV straatmyl bekend.
Die mans- en damesatleet wat die meeste punte oor die drie bene versamel, kan met die groot prys wegstap.
Die Atletiekstraatmyle word in die volgende kategorieë aangebied: Sub-juniors (9-13), juniors (14-19), elite/ope (20-39) en 40+ (40+ op datum van kompetisie).
Daar is ook vanjaar addisionele pryse vir die eerste Garden Route (SWD)-atlete oor die wenstreep. Die fietsry mylren (Oudtshoorn), asook die kermesse (NMU) se kategorieë is sub-juniors (o.9, o.11 en o.13); juniors (o.15 en o.17); elite (o.23, vet -34) en veterane (35-49, vet 50+).
Group Editors is die mediaborg en verskeie ander borge ondersteun die reeks.
Inskrywings word aanlyn gedoen en sal binnekort oop wees. Besoek www.edenmiles.co.za vir inskrywings en algemene navrae.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'