MELKHOUTFONTEIN NUUS - Inwoners van Melkhoutfontein, net buite Stilbaai, het Saterdag, 28 Augustus behoorlik makietie gehou toe hul oudste inwoner, Petronella Riddles, haar tweede eeu op aarde gevier het.
Ma Nellie, soos sy bekend staan, het Dinsdag, 24 Augustus, dié besonderse mylpaal behaal toe sy haar 100ste geboortedag herdenk het.
Saterdag se verjaarsdagvieringe is voorafgegaan met 'n besoek van Hessequa se burgemeester Grant Riddles aan sy groottante.
Hy is deur eerwaarde Keith Muller van die St Augustines Anglikaanse Kerk vergesel en die twee hooggeplaasdes het die grasieuse grootouma met sertifikate van waardering vereer.
Muller het Ma Nellie met skriflesings uit 2 Samuel 22:33 en Psalm 73:26 bemoedig en Riddles het haar bedank vir die wonderlike rol wat sy al die jare in hul familie vervul het. Saterdag het Riddles, naaste familie en vriende die mylpaal saam met Ma Nellie by haar woning op hul plaas, Blikhuis, gevier.
Burgemeester Grant Riddles,saam met sy ma se tante, ma Nellie Riddles.
Ma Nellie is op Gouritzmond gebore en getoë. Haar eggenoot, Andries Riddles, met wie sy 38 jaar getroud was, het haar in 1980 ontval.
Dié merkwaardige senior burger geniet nog redelik goeie gesondheid en is in haar element as sy in haar groentetuin werskaf. Sy is ook 'n bobaas-broodbakker.
Gepols oor hoe sy so gesond is, het sy dit aan haar werksywer toegeskryf. Sy glo ook haar geloof as Christen is 'n groot faktor.
Haar kroos bestaan uit 10 kinders, waarvan drie oorlede is, 17 kleinkinders, 15 agterkleinkinders en een agter-agterkleinkind.
Ma Nellie omring deur haar kinders. Van links: Johannes Riddles, Beranice Solomon, Hester Botha, Andries Riddles, Christine Daniels, Hendrina February en Jantjie Flores, haar aangenome seun. Haar agterkleinkind, Zaveney Duitsjan is links voor.
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'