HESSEQUA NUUS - Die 'Listeria-histeria' het die streek in rep en roep nadat die skoknuus Sondag 4 Maart deur dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid aangekondig is.
Die histerie het begin na die oorsprong van die dodelike Listeriose-virus, 'n Enterprise-fabriek in Polokwane, bekend geword het.
Die harde werklikheid van die saak het eers ingesink nadat winkels geprosesseerde vleisprodukte van Enterprise, Renown, Bokkie en Rainbow vanuit yskaste verwyder het.
Produkte van ander vervaardigers wat van die rakke afgehaal is, is Mieliekip en Lifestyle.
André van Wyk, eienaar van Riversdal SuperSpar het gesê: "Ons het reeds die genoemde produkte van ons rakke en uit vries- en yskaste verwyder.
"Alles is in sakke verseël en ons wag net vir die verteenwoordigers om dit te kom haal. Die yskaste waar daar wel van die produkte was, is gewas en deeglik ontsmet."
Die winkel se geprosesseerde produkte word nie deur Enterprise of Rainbow vervaardig of verpak nie en is veilig om te gebruik.
Dokters meen dat mense onnodig op hol is oor die sogenaamde 'uitbraak', hoewel daar na beraming ongeveer 180 persone vanaf verlede jaar tot nou weens dié virus dood is.
Dit is ernstig en gevaarlik, maar kan blykbaar behandel word.
Dit is wanneer dit nié behandel word nie dat dit dodelik word en kan die virus moontlik septicemia en selfs breinvliesontsteking veroorsaak.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'