Gallery Update
RIVERSDAL NUUS - Die verwaarloosde stasie is al baie lank vir inwoners 'n steen des aanstoots, nie net omdat dit onooglik is nie, maar ook omdat dit as onveilig beskou word.
Die stasie het 'n glansryke verlede. Dit is op 23 Maart 1936 amptelik in gebruik geneem en is verskeie kere bekroon as die stasie met die mooiste tuin.
Van die tuin is min oor - dis net 'n oorgroeide boskasie waar iemand tydens Suid-Kaap Forum se besoek in die diep skadu tussen die lang gras lê en slaap het.
'n Atmosfeer van verwaarloosde verlatenheid hang oor die gebou. Die deure en vensteropeninge is van die binnekant af toegemessel. Die hekke voor die oorblywende deure is gegrendel. Lemmetjiesdraad wat eens op 'n tyd oortreders probeer uithou het, is platgetrap. Die buitemure wat tydens die koerant se besoek in 2017 vars witgeverf was, is opnuut bekrap. In 'n hoek lê 'n hoop leë plastiekwynbottels en 'n ou wynboks.
Die stasiegeboue is 'n tyd lank deur die munisipaliteit gehuur. "CapeNature het 'n klompie jare gelede 'n deel van die stasiegebou by die Hessequa-munisipaliteit gehuur vir kantore," vertel Rhett Hisemann, wat toe in diens van dié departement was. "Die verkeersdepartement het ook kantore daar gehad," onthou hy. "Dit was nie 'n baie veilige plek nie en ons het 'n paar inbrake gehad wat daartoe gelei het dat ons ander kantore gekry het."
Die afgelope agt jaar het die koerant gereeld verslag gedoen oor die toestand van die stasie. In November 2017 is berig dat Johan Jacobs, munisipale bestuurder, Transnet versoek het om die stasiegeboue en terrein in stand te hou. Transnet is ook versoek om te besin oor hul langtermynplan vir die eiendom, wat moontlik verhuring of selfs vervreemding kon insluit.
Dalk is daar nou lig aan die einde van die spreekwoordelike tonnel vir dié historiese stasie.
Volgens Akona Ngqinambi, Transnet se areabestuurder: eiendom, is onderhandelinge met Hessequa-munisipaliteit aan die gang vir die huur van die stasiegeboue.
"Die munisipaliteit kan nog nie inligting bekendmaak rakende die onderhandelinge nie," het Susan Geldenhuys, munisipale woordvoerder op navraag gesê. "'n Volledige verslag moet eers aan die raad voorgelê word vir goedkeuring. Die munisipaliteit beoog om in die volgende twee maande die onderhandelinge te finaliseer en daarna sal 'n mediaverklaring uitgaan wat die pad vorentoe verduidelik."
Lees 'n vorige artikel hier: Riversdal-stasie gaan gerangeer word
Toegemessel, toegegrendel, bekrap – en al wat oor is van 'n tuintjie op die perron is 'n hoop klippe. Foto's: Tisha Steyn
'n Atmosfeer van verwaarloosde verlatenheid hang oor die gebou.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'