Update
STILBAAI NUUS - Nadat Hessequa-munisipaliteit sy voorneme om die gebou waarin Lappiesbaai Restaurant in Stilbaai geleë is per openbare tender te verkoop en vir publieke deelname gepubliseer het, het Dalene Griesel, wat tans die restaurant bestuur, 'n ander voorstel aan die munisipaliteit gemaak.
Sy het in Februarie 2023 betrokke geraak by Lappiesbaai Restaurant. Met verloop van tyd het sy die bestuur as gevolg van Laetitia Kruis, die eienaar, se gesondheid oorgeneem.
Na 'n tydjie het Griesel en Kruis besluit om besigheidsvennote te word en daar is besluit dat Griesel in die bestaande BK sou inkoop.
Kruis het al die inligting waaroor sy beskik het, asook al die kontrakte, aan Griesel oorhandig en sy was geskok om te sien hoe die huur opgegaan het. As 'n mens die geweldige groei van Stilbaai oor die afgelope paar jaar in ag neem, is dit logies dat R206 per maand vir huur ver onder markverwant is.
Dit is blykbaar wat die vorige eienaar betaal het, maar tans is dit baie hoër.
Volgens Griesel het die restaurant 'n baie groot terugslag met die pandemie beleef, want hulle moes vir lang tye toemaak en hulle het nie veel verligting ontvang van die owerhede se kant af nie.
Volgens haar het hulle ook uitermate hoë elektrisiteitsrekeninge in daardie tyd ontvang, alhoewel slegs die vrieskas aan was.
Griesel sê dat Lappiesbaai Restaurant as gevolg van al bogenoemde redes heelwat uitstaande skuld opgebou het, maar sy en Kruis het ooreenkomste aangegaan met verskaffers dat sy die skuld sou afbetaal sodra sy inkoop in die BK. Sy gaan egter nie by die ooreenkomste hou indien die gebou verkoop word nie.
Griesel het dus 'n voorstel aan die munisipaliteit gemaak dat hulle aan haar 'n huurkontrak vir minimum 30 jaar vir die gebou aanbied met die aanpassing in die huur na 'n redelike en markverwante bedrag. Sodoende sal sy Lappiesbaai Restaurant en sy mense kan red.
Sy sê verder dat sy die afgelope vyf maande bloed gesweet het om die plek weer ten minste op standaard te kry met die diens en gehalte kos wat hulle bedien. Sy werk al vir die afgelope 25 jaar in die bedryf en het die ondersteuning van die meeste besighede in die dorp.
Griesel sê dat sy al heelwat geld in die besigheid gepomp het sodat hulle kan voortbestaan totdat opgraderings gedoen kan word.
Sy het geen besware teen toekomstige ontwikkelings wat die munisipaliteit vir Lappiesbaai het nie en sê dit sal goed wees vir die hele dorp en gemeenskap. Sy soek net 'n regverdige kans om Lappiesbaai Restaurant terug te sit op die kaart en dit te omskep in die plek wat dit kan wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’