SLANGRIVIER NUUS - Die lang wag vir hul transportaktes as bewys van eienaarskap is uiteindelik vir nog 26 begunstigdes van die Asla Park-behuisingsskema in Slangrivier iets van die verlede.
Dit bring die totaal op 169 begunstigdes van dié buurt wat nou volwaardige huiseienaars is. Die vreugde was duidelik sigbaar, masker en al.
As gevolg van die inperkingsregulasies het afgevaardigdes van die provinsiale regering en Hessequa-munisipaliteit by die plaaslike gemeenskapsaal ontmoet van waar hulle na die huise is om die oorhandiging te doen. Die begunstigdes is buite die saal deur Tertuis Simmers, Wes-Kaapse minister van behuising, Grant Riddles, Hessequa se uitvoerende burgemeester en Gerald Boezak, plaaslike wyksraadslid, toegespreek. Die verrigtinge is ook deur raadslid Margaret Jakobs, die portefeulje voorsitter en raadslid Ben Smith bygewoon.
Simmers het gesê dat Slangrivier 'n Wet 9 gebied was en hulle as gevolg daarvan nie eienaarskap kon geniet nie. Hy het hulle ook gemaan om te voorkom dat die titelaktes in die verkeerde hande beland.
Riddles en Boezak het hulle ingelig oor hoe waardevol hul eiendomme is en hulle aangemoedig om testamente op te stel om onnodige probleme in die toekoms te vermy. "Moet asseblief nie jul eiendom vir 'n appel en 'n ei verkoop nie."
Lenie Heneke (63) het haar innige dank teenoor Simmers en Riddles uitgespreek. "Dit is 'n blye dag in my en my man Simon se lewe."
Die afvaardiging van die plaaslike, sowel as provinsiale regerings het tydens hul kort samekoms by die saal hulle afstand van mekaar gehou.
'Ons bring jou die nuutste Slangrivier, Hessequa nuus'