RIVERSDAL NUUS - Laerskool Volschenk het 'n skoolpatrolliediens ingestel, hoofsaaklik om te verseker leerders steek die besige Wardenstraat veilig oor.
Die skoolhoof, mnr. Louis Lategan sê Wardenstraat ondervind druk oggendverkeer soos wat motoriste na hul werkplekke ry of om kinders by skole af te laai.
"Ons leerders se veiligheid is ons hoofprioriteit. Dis nie onderhandelbaar nie en daarom het ons besluit om weer 'n skoolpatrolliediens in te stel."
Hy sê dié soort aksie gee die leerders nie net groter blootstelling aan voorkomende optrede nie, maar lewer ook 'n belangrike diens aan die gemeenskap en die skool in besonder.
Lategan het sy dank teenoor die verkeersafdeling uitgespreek, veral Morné Dyason wat gehelp het om die leerders wat skoolpatrolliediens doen op te lei. "Die leerders het die opleiding met groot entoesiasme aangepak."
Wardenstraat is steeds besig, maar aanmerklik veiliger.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'