RIVERSDAL NUUS - Die plaaslike kwiltgroep, Sleeping Beauty Kwilters, gaan van 11 tot 14 Oktober 'n kwilt- en handwerkuitstalling in die kerkgebou en -saal van die NG Kerk Riversdal-Wes in Heidelbergweg, Riversdal, hou.
Besigtigingstye sal van Woensdag tot Vrydag van 10:00 tot 16:00 en Saterdagoggend van 10:00 tot 12:00 wees.
Toegang is gratis. Tydens die uitstalling sal daar ligte etes, heerlike verversings en drinkgoed te koop wees. Parkering is gratis en op die kerkterrein geleë.
'n Dubbelbed-kwilt, gemaak deur die lede, word uitgeloot. Lootjies sal gedurende die uitstalling te koop wees. Die opbrengs sal ten bate van die kwiltgroep se vier liefdadigheidsprojekte aangewend word.
Sleeping Beauty Kwilters is vanjaar 21 jaar oud en is dit net gepas om die tema "Van Toeka tot Nou" uit te beeld deur 'n paar ou juwele uit die skatkis te haal, af te stof en met almal te deel.
Of dit kwilt-, borduur-, brei- of hekelwerk is, hierdie handwerkkuns sal altyd 'n gunsteling wees en behoort meer beoefen te word.
Die kwilt- en handwerk-uitstalling is 'n ideale geleentheid vir groepuitstappies of 'n ontspanne dag tussen mooigoed in die pragtige en rustige omgewing wat Riversdal bied.
Vir meer inligting omtrent die uitstalling kan Esther Snyman by 072 612 3284 of Sonette Burger by 083 3505 999 gekontak word.
Pragtige kwiltwerk soos dié sal van van 11 tot 14 Oktober by die kerkgebou en -saal van die NG Kerk Riversdal-Wes uitgestel word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’