TUINROETE | HESSEQUA NUUS - Die voortslepende probleme by die Kaapse aktekantoor, het allerweë ‘n uiters negatiewe effek op die plaaslike ekonomie. Dít, is prokureurs en eiendomsagente in die streek eens.
Na aanleiding van ‘n leser se versoek en verskeie inskrywings op sosiale meidaplatforms, asook berigte in die nasionale nuus, is die probleme rondom die Covid-19-pandemie se effek op die Wes-Kaapse aktekantoor onder die loep geneem.
Volgens nuusberigte, was die aktekantoor sedert dit op 13 Mei tydens die vlak 4-inperking heropen is tot en met 17 Julie, vir 37 dae gesluit. Die kantoor was volgens inligting, minstens ses keer gesluit en by tye tot 10 dae op ‘n keer.
‘n Leser het aan die Mossel Bay Advertiser geskryf dat sy al meer as sewe weke op terugvoering wag nadat sy ‘n erf gekoop het. “Ons kan nie planne indien nie as gevolg van registrasie wat nie afgehandel is nie en moet teen einde November 2020 klaar gebou wees aangesien ons die huurwoning einde November moet ontruim. Ons is regtig 'n hele paar mense hier in Mosselbaai wat ek van weet wat nou al regtig raadop is,” skryf sy.
‘In die duister’
Die Wes-Kaapse minister van finansies en ekonomiese geleenthede, David Maynier het verlede week in ‘n brief die minister Thoko Didiza, nasionale minister van grondhervoming en landelike ontwikkeling versoek om dringend in te gryp.
Hy het die Covid-19-protokol by die aktekantoor bevraagteken en ook die voorstel gemaak dat personeel in kleiner, meer geïsoleerde spanne saam werk sodat die impak van infeksie binne die kantoor beter bestuur kan word. Maynier het in sy brief gesê dit is “problematies” dat die beide die Mowbray en stadskantore sluit “elke keer as ‘n werknemer positief toets vir Covid-19, of in aanraking was met iemand wat positief getoets is.”
Jaco Fourie van Rauch Gertenbach Prokureurs op Mosselbaai beskryf die toestand as uiters frustrerend. Hy bevraagteken ook die aktekantoor se Covid-19-protokol. “Ons is totaal in die duister aangesien die sluiting gewoonik gepaardgaan met ‘n ‘until further notice’-kennisgewing. Ons hande is dus afgekap.”
Fiona Williamson van Mosselbaai wat in aktebesoring spesialiseer, het boek gehou dat die aktekantoor sedert dit op 13 Mei heropen het. “Prosesse wat gewoonlik 5 tot 10 dae neem, neem nou 8-10 weke.”
Williamson sê die impak hiervan op haar praktyk se kontantvloei is verwoestend, aangesien sy slegs fooie ontvang wanneer die aktekantoor die proses afgehandel het en registrasie bevestig is. Sy bekommer haar ook oor die massiewe rimpeleffek op ander diensverskaffers verwant aan die eiendomsbedryf.
“Nooit in my wildste drome sou ek kon dink dat so iets sou kon gebeur nie,” sê Marietjie Coetzee wat al 20 jaar in Mosselbaai sake doen en al die nukke van die eiendomsmark beleef het. Vir haar is dit skreiend dat die aktekantoor, wat ‘n groot organisasie is, so onvoorbereid op Covid-19 was. “Ons het tog tegnologie aan ons kant. Hoekom kon dit nie beter benut word nie?” Volgens haar trek eiendomsagente aan die kortste ent omdat hulle die koopproses aan die gang sit en nou amper tot laaste vir betaling moet wag.
Corné Olivier van Property Monopoly sê dat transaksies wat in Januarie en Februarie plaasgevind het, nog nie geregistreer is nie. “Die impak is enorm. Die verkoper word beïnvloed want hulle kry nie hul geld nie, ‘n trek moet skuif en boonop is okkupasiehuur te betaal. Kopers, veral wat die eerste keer in eiendom belê, moet nou nog langer huur betaal wat ‘n huispaaiement kon gewees het. Verder, ly eiendomsagente verlies aan hul enigste inkomste. Hulle speel woer-woer met ons.”
Hy meen ook dat die stilstand in die eiendomsbedryf, ‘n groot aantal aanverwante diensverskaffers ook raak.
Deona Aucamp van Suid-Kaap Forum berig dat Mario Simon van Suid-Kaap Eiendomme op Riversdal dieselfde frustrasie beleef. "Registrasies vat langer en vind laat plaas. Dit het groot finansiële implikasies vir kliënte.”
Johan Kruger van Promax Eiendomme op Stilbaai beaam dit. "Hoewel ons bly is ons kan darem nog werk, plaas dit groot finansiële druk op alle partye."
Ook prokureurs spring nie die gevolge vry nie. Annemarie Oosthuizen van AC Oosthuizen Prokureurs op Stilbaai beskryf die aktekantoor se wipplankryery as uitmergelend. "Enige vertraging in die registrasieproses het 'n baie groot uitwerking op kliënte. Wanneer dit soos die afgelope maande boonop nog in onsekerheid gedompel word, laai die kostes en die spanningsvlakke op.
"Munisipale uitklaringsertifikate verval voor registrasie kan plaasvind en dis weer ekstra onkoste vir die partye om 'n verlengde sertifikaat aan te vra. Almal verstaan nie dis onder die huidige omstandighede onmoontlik om akkuraat rekord van vordering te hou nie." Haar statistiek toon die gemiddelde tyd vir die registrasie van 'n eiendomstransaksie is tans 35 dae.
Prokureur Johan Cronjé wat kantore op Albertinia en Stilbaai bedryf, reken die situasie is 'n nagmerrie. "'n Koper en verkoper gaan met sekere verwagtinge in 'n transaksie in. As die aktekantoor nie met die proses kan begin en aangaan sonder onderbreking nie, verander die hele prentjie en almal se planne is in die war."
Agterstand
In ‘n skrywe deur Joseph Dreyer, waarnemende registrateur van aktes by die Wes-Kaapse Aktekantoor wat verlede week vir die Mossel Bay Advertiser aangestuur is deur ‘n plaaslike eiendomsagent, word lig op die agsterstand gewerp. Volgens dié dokument was die toedrag van sake op 5 Augustus, soos volg:
- 45 992 aktes is ingehandig tussen 13 Mei en 5 Augustus;
- 20 181 hiervan is geregistreer (dus 44%);
- en die agterstand, soos op 5 Augustus was 25 811.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'