STILBAAI NUUS - Die Stilbaai Militêre Veterane-vereniging het Sondag 13 November kranse gelê ter ere van al die soldate wat in die twee wêreldoorloë - en alle oorloë daarna - gesterf het.
Dié eerbetoning word altyd op die Sondag naaste aan 11 November gedoen. Twee lede van die Pretoria Highlanders het spesiaal van Pretoria af gekom vir die kranslegging.
Die gewyde stilte is verbreek met tien ghongslae en daarna die laaste taptoe, terwyl die landsvlag halfmas laat sak is. Dit het gemengde gevoelens gebring, want vir sommige was daar steeds die seer van 'n gevalle geliefde.
Al ooit gewonder hoekom Wapenstilstanddag - of "Poppy Day" soos dit in die volksmond bekendstaan - elke jaar in November gevier word?
Jaarliks word daar in Brittanje sowel as die Statebondslande op die 11de uur van die 11de dag van die 11de maand kranse gelê om al die soldate wat in die twee wêreldoorloë en alle oorloë daarna gesterf het, te eer.
Hein Kruger lê 'n krans om sy eer te betoon aan alle afgestorwe soldate.
In November 1918 het Franse, Britse en Duitse beamptes vergader in die Compiégne-woud in die noorde van Frankryk in die persoonlike treinwa van die Franse bevelvoerder, Ferdinand Fouché waar hulle ooreengekom het om alle vyandelikhede te staak en die Eerste Wêreldoorlog ná vier lang jare te beëindig.
Die wapenstilstand het elfuur die oggend op 11 November begin.
Talle rooi papawers het later gegroei op hierdie slagvelde soos beskryf in die gedig In Flanders's Fields deur John McCrae en dit is waarom daar tot vandag toe nog rooi papawers op Wapenstilstanddag gedra word.
Die Suid-Afrikaanse vlag hang halfmas.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'