RIVERSDAL NUUS - Die Covid-19-inperking het ook op die motorbedryf ’n verwoestende uitwerking.
Verkope van nuwe motors, asook vervaardiging van voertuie vir die binnelandse mark en uitvoere staan botstil omdat fabrieke en handelaars nie hul besigheid normaalweg kan bedryf nie.
Volgens die nasionale vereniging van motorvervaardigers in Suid-Afrika (Naamsa) was verkope van nuwe motors in Februarie 43 485, terwyl 30 832 voertuie uitgevoer is. In Maart het verkope tot 33 545 (23%) en uitvoere tot 28 883 (6,3%) afgeneem. Omdat die regering nie belastinginkomste uit verkope kry nie, ly die hele land se ekonomie daaronder.
Wanneer die inperkingsmaatreëls opgehef word, sal die bedryf stelselmatig op dreef kom, maar die nadraai sal ten minste nog in die volgende kwartaal gevoel word.
Invloed op die plaaslike motorbedryf
Arthur Warner, bestuurder van Rola Ford, sê die onderneming het sedert die inperking absoluut geen inkomste gehad nie. “Ons het nie ’n enkele voertuig of onderdele verkoop of enige voertuie gediens nie.” Dit het hulle egter nie gekeer om aanlyn besigheid te doen nie. “Ons hanteer navrae per e-pos, kry finansiering via die internet en reserveer die voertuie wat klante wil koop. Ons hoop om talle sulke transaksies in die pyplyn te hê sodat ons volstoom kan voortgaan wanneer die inperkingstyd op 1 Mei opgehef word.”
Volgens Henk Louwrens, eienaar van Riversdal Toyota, bly hy deur middel van ’n kommunikasiegroep op hoogte van wat in die bedryf en in ander takke aangaan.
“Die grootste uitdaging is nou om positief te bly en positiewe antwoorde vir personeel en klante te gee. Niemand het al so ’n ernstige krisis beleef nie - een van my klante sê die Tweede Wêreldoorlog was nie eens so erg nie!”
Omdat dit so ’n buitengewone situasie is, het nie hy of die bedryf ’n noodplan gehad nie, want die koronavirus en die uitwerking daarvan kon nie voorsien word nie. “Aangesien dit die eerste keer in die wêreld is dat daar so ’n krisis is, was daar nie noodplanne in plek nie. In die toekoms sal daar seker produkte soos versekering op die mark kom. Die departement van handel en nywerheid sal sekerlik ook sorg dat die nodige gesondheidsmaatreëls in plek is en toegepas word. Ons self is nou meer bewus van die belangrikheid van gesondheid en wanneer ons weer ons deure open, sal ons beslis sorg dat ons die maatreëls streng toepas.”
Vir hom is dit baie belangrik om ten spyte van die finansiële verliese steeds sy personeel se salaris te betaal en hulle moreel te ondersteun. “Ten spyte van ons verliese moet ons uitreik na ons eie werknemers en ander wat in nood is. Ons kan net op die Here vertrou.”
Blink nuwe motors, maar niemand wat koop nie. Foto: Tisha Steyn
Dear reader, As your local news provider, we have the duty of keeping you factually informed on Covid-19 developments. As you may have noticed, mis- and disinformation (also known as “fake news”) is circulating online. Group Editors (publications and online platforms) is determined to filter through the masses of information doing the rounds and to separate truth from untruth in order to keep you adequately informed. Local newsrooms follow a strict pre-publication fact-checking protocol. A national task team has been established to assist in bringing you credible news reports on Covid-19.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'