RIVERSDAL NUUS - Koperdiefstal op plase in die streek is nou die nuutste teiken vir misdadigers. Dit neem hand oor hand toe.
Sers. Christiaan Jansen, mediawoordvoerder van die plaaslike polisie, het aan Suid-Kaap Forum gesê plase loop nou erg onder koperdiewe deur en besorg hulle groot probleme. Dis veral spilpuntkoppe wat geteiken word.
Jansen sê dis 'n haas onbegonne taak om die diewe op heterdaad te betrap, want hulle is slinks en ook goed georganiseer.
Wat die situasie vererger, is dat skrootwerwe steeds aanhou om gesteelde items, veral koper, aan te koop sonder om die transaksie te bevraagteken.
"Dit sterk die koperdiewe in hul onwettige optrede, omdat hulle weet hulle kom daarmee weg. Mens sou verwag vreemdelinge wat koperware aandra sal met groter agterdog bejeën word. Om met spilpunte te kom smous moet mos die gevaarligte laat flikker?
"Ons beoog dit om bewusmakings-programme te loods wat mense kan help om te onderskei watter soorte koper om nie aan te koop nie en wat wel wettig is om aan te skaf."
Dit geld eweseer vir inbrake in woonbuurte, wat ook 'n opwaartse kurwe toon. "Dieselfde les is hier te leer: moenie iets aankoop as jy nie duidelikheid het wat die oorsprong daarvan is nie.
"Dis jou reg om die verkoper te konfronteer en as iets nie pluis lyk nie, dit onmiddellik by die polisie aan te meld. Dis al hoe ons die verkope van gesteelde goedere kan hokslaan."
Nog iets wat die polisie grys hare besorg, is skoolleerders wat in die strate vir kwaadgeld rondloop en nie op die skoolbanke sit nie.
"Die groot probleem is dat jong skool-gaande kinders met die verkeerde rolmodelle interaksie het. Die verkeerde gedrag wat hulle in hul ouerhuise aanleer, aanvaar hulle as goed en reg.
"My raad aan inwoners is om die polisie in te lig as daar kinders op straat is en nie by die skool nie. Om stil te bly en die probleem te ignoreer, vererger net die situasie. Deur ons in te lig kan ons tuisbesoeke gaan doen om agter die kap van die byl te kom."
Hy sê daggagebruik onder die jeug is nóg 'n groot bron van kommer. "Noudat dagga gewettig is, gebruik baie jongmense dit openlik. Wat hulle nie besef nie, is dat dit steeds onwettig is om dagga in die openbaar te koop of te rook. Maar dit skeel hulle min.
"Hier wag 'n groot uitdaging om dié jong afvalliges te rehabiliteer. Daar is verskeie opsies beskikbaar, soos welsynsprogramme, maar of dit die gewenste uitwerking gaan hê staan te besien."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'