SLANGRIVIER NUUS - Heidelberg-polisie het op Woensdag 21 Augustus 'n gemeenskapsvergadering op Slangrivier gehou.
Die vergadering is deur kol. Una Saayman, waarnemende gebiedsbevelvoerder gelei. Die gemeenskap het dit goed ondersteun en versoek dat die kontakpunt op Slangrivier meer gereeld oopgemaak moet word.
Die gemeenskap het ook gekla oor die las wat hulle met rondloperhonde het. Adjudant-offisier Alroy Windvogel, mediawoordvoerder van Heidelberg-polisie, het bevestig dat daar die afgelope tyd drie ongelukke plaasgevind het waarvan rondloperhonde die oorsaak was.
Na die vergadering het die bestuur van Heidelberg-polisie besluit dat die kontakpunt op Slangrivier in die toekoms op die volgende tye oop sal wees:
Maandae, Woensdae en Vrydae vanaf 10:00 tot 17:00.
Naweke: Vrydagaand vanaf 18:00 tot Saterdagoggend 02:00 asook Saterdagaand vanaf 18:00 tot Sondagoggend 02:00.
Kol. Saayman het die gemeenskap bedank vir hul teenwoordigheid.
'Ons bring jou die nuutste Slangrivier, Hessequa nuus'